Veediefstal in Mpumalanga ‘buite beheer’

Argieffoto (Foto: SA Polisie)

Die VF Plus vra vir sterker vervolging en die maksimum vonnis vir veediefstal in Mpumalanga aangesien dié misdryf nou buite beheer spiraal.

Werner Weber, provinsiale leier van die VF Plus, sê daar is Dinsdag elf perde vanaf ‘n plaas in Volksrust (Pixley Ka Seme- plaaslike munisipaliteit) gesteel. Dit volg kort op ‘n voorval die afgelope naweek waartydens Francois Malan se plaasbestuurder in Leandra (Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit) deur gewapende rowers by ‘n voerkraal aangehou is. Die verdagtes het met 14 dormerskape gevlug.

In Maart vanjaar is 58 stoetramme, -ooie en -lammers van ‘n boer in Belfast/Emakhazeni (Emakhazeni- plaaslike munisipaliteit) gesteel. Die afgelope vyf maande is meer as 300 beeste en skape in die Hoëveld van die provinsie gesteel, voeg Weber by.

“Die geraamde waarde van veeverliese oor hierdie tydperk is meer as R3 miljoen. Baie van die diere word op die toneel geslag en in sommige gevalle is die vee selfs opgesny terwyl hulle nog geleef het.”

Weber sê plaaslike boere plaas die blaam vierkantig op die skouers van die polisie wat klaarblyklik nie oor die vermoë beskik om sake op te los nie.

“Vir ’n daadwerklike impak op veediefstal móét daar nou na ’n volgende rat oorgeskakel word. Tans is een van die vernaamste bekommernisse en uitdagings die aantal sake wat aangemeld word teenoor die aantal veediewe wat deur die howe skuldig bevind word. Die misdaadstatistiek, vir die tydperk Oktober tot Desember 2021, toon dat 807 stuks vee in Mpumalanga gesteel is. Tussen April 2021 en Desember 2021 is 2 260 stuks vee in die provinsie as gesteel aangemeld.”

Die VF Plus raai boere aan om ekstra maatreëls in plek te stel om toenemende diefstalle te voorkom. Dit is ook van kardinale belang dat boere by plaaslike veiligheidstrukture inskakel.

Weber sê sou hulle sake aanmeld, moet hulle deurlopend met die ondersoekbeampte kontak hou en druk toepas tot die saak deur die hof gevoer word.

Maroela Media het vroeër berig Malan sal die R25 000 wat vir die skape betaal is, moet terugbetaal. Hoewel dit die eerste keer is dat een van sy werkers gedreig en voorgelê is, is tientalle van sy diere sedert die begin van die jaar van sy plaas af gesteel.

“Hulle het ʼn paar maande gelede 70 beeste gesteel en kort voor dit 20 skape, waarvan ons ses teruggekry het. Dis nie net ek nie, dis al die boere in die omgewing. Ons kry bitter min samewerking van die polisie en moet maar self patrollie ry en veiligheidswagte aanstel om ʼn oog oor ons vee te hou.”

Malan het self veiligheidswagte wat die diere 24 uur ʼn dag dophou, maar moet steeds patrollie ry en seker maak die wagte doen hul werk. “Dis tyd, geld en energie wat jy nie terugkry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarnemer ·

Herdoop die plekname terug na Volksrust Leandrs en Belfast dan sal die skelms terug gaan na wasr hulle vandaan kom….anderkant die grens en sal veediefstal ophou.Omdst die skelms dink Pixley ja seme en Givan Mbeki en Emakazeni is deel van hulle erfenis is die rede waarom hulle dasrheen trek.

Pannies ·

Siestog hulle is seker honger.
Maar hulle gaan nog baie hongerder word as die boere in SA ophou boer.

Christine ·

Dit raak net erger by die dag. Kriminele moet net verdwyn, dis al hoe dit einde sal kry.

Willem ·

Veediefstal sal nie maklik opgelos word nie omdat
1. Analitiese denke ontbreek in die oplos van misdaad..in die SAP in geheel.
2.Arrestasies in Veediefstal meesal gemaak word deur die publiek..en nie deur Veediefstal eenhede nie .
3.Veediefstalsake waar die slagoffers beroof word met vuurwapens na gewone speurtakke verwys word .
4.ñ Algehele gebrek aan toewyding , gebrek aan berriggewers ,en bevel en beheer ontbreek
5.Staatsvoertuie word aangewend vir privaatgebruik en nie vir ondersoek nie .
6.Veediefstal is net diefstal van vee..maar daarvoor is ñ “spesialis” eenheid saamgestel..met ñ paar stukkies ekstra wetgewing ten einde bietjie meer vleis om die been te sit…by wyse van spreke

Harley Davidson ·

Stig julle eie komando of mapogo sisteem en boesem vrees in by die terroriste soveel so dat hulle te bang moet wees om na ‘n skaap te kyk wat nie aan hulle behoort nie,die sapd is ‘n mors van tyd en belasting geld .

annie ·

…lank, lank gelede het ‘n oom, Jan van Riebeeck, aan die Kaap van Goeie Hoop aangeland. En kort voor lank kon die oom en ander kolonialiste nie hul oë glo een oggend nie. Daar was die nag ‘n geraas by die krale maar hul dog toe dis net jakkalse of iets doodgewoons wat die diere ontstig het. Wat het beter geword sedert 1652? Selfs Coca Cola wat in 1952 hier aangeland het, proe deesdae soos seepwater.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.