Veediefstalskok vir Gauteng, sê DA

Demokratiese Alliansie

Die Demokratiese Alliansie het Sondag gesê dit wil voorkom of die Suid-Afrikaanse Polisiediens nie bekwaam is om landelike gemeenskappe te beskerm nie.

Altesaam 1 609 gevalle van veediefstal is tussen Maart 2017 en September 2018 in Gauteng aangemeld, met 1 158 gevalle in die 2017/18 periode, het DA-LP Ina Cilliers gesê.

Dit is in vergelyking met 903 gevalle in 2014/15, 888 in 2015/16 en 1 016 gevalle in 2016/17.

“Tydens die jongste voorvalle is 3 123 beeste, 2 907 skape, 266 skape, 2 269 bokke en 41 donkies of perde gesteel teen ʼn konserwatiewe geraamde waarde van meer as R40 miljoen,” het sy bygevoeg. “Volgens ʼn geskrewe reaksie in die Gautengse wetgewer wil dit voorkom of die Pretoria-streek die swaarste getref word, terwyl daar nie ʼn enkele voorval aan die Wes-rand aangemeld is tydens die betrokke periode nie.”

Cilliers het gesê onlangse navorsing dui daarop dat boere al hoe meer huiwerig is om veediefstal by die polisie aan te meld, as gevolg van ʼn gebrek aan vertroue in die polisie se prosesse en ʼn verhoudingsbreuk tussen boere en die polisie. Sy het gesê die kwansuise gebrek aan gevalle in die Wes-Rand is ʼn duidelike teken hiervan.

“Die vervolgingskoers is boonop slegs 17% van alle gevalle wat tydens die betrokke periode in Gauteng aangemeld is. Boere probeer dus eerder ekonomies lewensvatbaar bly as om die SAPD te betrek by ʼn moeisame en tevergeefse poging om misdaad aan te meld.”

Volgens Cilliers is ʼn gesprek oor die toekoms van landboubesigheid, veral in Gauteng, nie meer geloofwaardig as die ernstige probleme van landelike misdade, wat boere in die gesig staar, nie ingesluit word nie.

“Die SAPD is nie in staat om landelike gemeenskappe te beskerm nie. Die DA het lankal gesê gespesialiseerde landelikeveiligheidseenhede moet weer ingestel word met behoorlike hulpbronne.”

Afsonderlike en akkurate statistiek wat betref landelike misdaad moet ook bygewerk word sodat statistieke analise gedoen kan word om intelligensie- en polisiebedrywighede te verbeter. “Nuwe tegnologie, soos hommeltuie vir waarneming, toerusting wat geweerskote registreer en aanmeld en die gebruik van GPS-tegnologie om virtuele geografiese grenslyne op te stel, moet dringend ondersoek word,” het sy bygevoeg. “Dit is ʼn integrale deel om die polisiemag meer professioneel te maak. Dit is deel van ons kernaanbod en sal seker maak dat ons volgehoue voedselsekuriteit in Gauteng geniet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Ag Leniie natuurlik gaan hulle niks sê nie want die opskrif gaan oor veediefstal en nie plaasmoorde nie. En steeds gaan hul niks sê nie want hulle vry agter die 50miljoen swart stemme aan en nie die 2miljoen blanke stemme nie. So moet asb nie so verras wees nie. Dis graad 2 wiskunde

Phil ·

Pieter, hulle (DA) het my geskakel om te hoor of ek hul sal ondersteun. Vra toe wat is hul siening oor plaasmoorde. Persoon sê hulle sal dat iemand my terug skakel en ek wag nou nog…..

Sarel ·

Polisie beamptes is te besig om of misdaad te organiseer of te pleeg met die logistiek wat die belastingbetaler hulle van voorsien.
Daar is nie tyd vir hulle betalende stokperdjie naamlik polisieering nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.