Veediewe swaar gestraf

(Argieffoto)

Twee veediewe van Mpumalanga sal Kersfees in ʼn tronk deurbring nadat hulle pas tot 29 jaar tronkstraf gevonnis is.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê in ʼn verklaring Zacharia Dube (52) en Elijah Mabasa (40) is Vrydag in die Ermelo-landdroshof gevonnis nadat hulle en ʼn makker in 2015 op heterdaad betrap is toe hulle 21 beeste ter waarde van R310 000 op ʼn plaas buite Secunda gesteel het.

Dit volg nadat die gemeenskap ʼn klagte by lt.genl. Mondli Zuma, destydse provinsiale polisiekommissaris, ingedien het oor ʼn veediefstalsindikaat in die gebied. Zuma het destyds die Valke se hulp ingeroep om ondersoek in te stel.

Die makker, Christopher Kunene Dube, het tydens die verhoor ʼn staatsgetuie geword en die saak teen hom is teruggetrek.

Zodwa Mokoena, hoof van die Valke in Mpumalanga, sê veediefstal is ʼn groot probleem in dié provinsie.

Mokoena het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om op hul hoede te wees vir veediefstal tydens die feesseisoen aangesien veediewe gewoonlik dié tyd van die jaar vee aan mense verkoop wat dringend op soek is na vleis vir die feesgety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.