Veel meer mans as vroue in SA vermoor

Die studie het bevind 87% van mense wat in 2017 vermoor is, was mans. Die navorsers het soortgelyke persentasies vir 2009 (86%) en 2000 (84%) gevind. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Daniel Steyn, GroundUp

ʼn Studie deur navorsers verbonde aan die Mediese Navorsingsraad (MNR) het die aanbeveling gedoen dat die moordkoers onder mans in Suid-Afrika as ʼn saak van dringendheid gepak word.

Prof. Richard Matzopoulos, van die MNR se Siektelas-eenheid, en die res van die span navorsers het verslae van nadoodse ondersoeke – van mans en vroue – in 2017 bestudeer en onder meer gekyk na die oorsaak van dood, ouderdom en geografiese ligging, asook of alkohol enige rol in die dood gespeel het.

Die studie het bevind 87% van mense wat in 2017 vermoor is, was mans. Die navorsers het soortgelyke persentasies vir 2009 (86%) en 2000 (84%) gevind.

Volgens die navorsers is dit die eerste studie van sy soort oor moord op mans in Suid-Afrika. Vorige studies het hoofsaaklik op die moord op vroue gefokus. Die jaar 2017 is gebruik om saam te val met die derde nasionale studie oor vrouemoord (met vorige studies wat ook in 2000 en 2009 gedoen is).

Die navorsers het ʼn opdraande stryd gehad om hul studie in ʼn portuurbeoordeelde joernaal te laat publiseer. Dr. Morna Cornell, een van die skrywers, het aan GroundUp gesê mans se gesondheid word gewoonlik minder bestudeer. Cornell glo “ons leef in ʼn verouderde paradigma wat mans as magtig beskou, met die vermoë om die gesondheidstelsels te navigeer en dus minder verdienstelik vir sorg is”.

Die algemeenste oorsake van dood onder mans as slagoffers is steekwonde weens ʼn skerp voorwerp en skietvoorvalle. Vir diegene tussen 15 en 44 jaar is die koers van moord onder mans meer as agt keer dié van vroue. Die Wes-Kaap het die grootste gaping tussen mans en vroue as slagoffers: vir elke vrou wat vermoor word, word 11,4 mans vermoor.

Moord op mans bereik ʼn hoogtepunt oor Desember en naweke, wat dui op die rol wat alkohol in die syfer speel.

Die studie hoop ook om die idee te betwis dat mans “onkwesbaar” is.

“Die feit dat mans oortreders en slagoffers is, oordonder die sterk bewyse dat mans in baie opsigte uiters kwesbaar is,” lui die navorsing.

Moord in Suid-Afrika word hoofsaaklik in armer gebiede gepleeg, waar die uitwerking van armoede en ongelykheid die duidelikste is. Luidens die studie is “geweld genormaliseer as ʼn gereelde element van burgerlike protes en politieke diskoers”.

“Mans word gesosialiseer om druk te hanteer deur die eksternalisering van woede, geïrriteerdheid, geweld teen lewensmaats en ander, asook verhoogde voorkoms van gevaarlike gedrag. Dit, saam met die hoë vlakke van geweld waaraan mans blootgestel word, [veroorsaak] ʼn dikwels intergenerasie-siklus van geweld,” lui die studie.

Die studie gee erkenning daaraan dat “geweld teen vroue endemies in Suid-Afrika is, met koerse amper ses keer die internasionale syfer”, maar lui ook dat “mans se disproporsionele las van moord nie gelei het tot geteikende, sinvolle voorkoming” nie.

Ingrypings wat aanbeveel word, sluit in strenger beheer oor drank en vuurwapens, programme om maatskaplike norme wat geweld dryf te hanteer, asook pogings om die worteloorsake van armoede en ongelykhede uit te wis.

Matzopoulos, hoofskrywer, het aan GroundUp gesê meer navorsing is nodig om die risiko’s en ingrypings te begryp, veral in ʼn Suid-Afrikaanse konteks.

ʼn Tweede fase van die studie sal kyk na slagoffers en oortreders binne ʼn spesifieke situasie.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marous ·

Een van die gevaarlikste plekke in die wereld en die koning en sy gesante loop kaal rond . En gaan kyk rugby .

Ryan ·

En n mens moet n wetenskaplike wees om hierdie feit te bevestig? Ongelooflik!

Vrijburger ·

Nee wat, hierdie gaan nie veel aandag kry nie – dit is teen die naratief van die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.