Veelpartyhandves vra burgerlike groepe se hulp om ANC te klop

Leiers en verteenwoordigers van die verskillende politieke partye in die Veelpartyhandves. (Foto: Verskaf deur Veelpartyhandves)

Daar is tans nie ’n enkele politieke party wat dit op sy eie gaan regkry om die ANC te klop nie. Dit gaan ’n spanpoging verg en daar moet oor ’n wye front hande gevat word.

Só het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, Dinsdag gesê nadat politieke partye van die Veelpartyhandves met verskeie burgerlike organisasies in Ekurhuleni in gesprek getree het.

“Politieke partye van die Veelpartyhandves het hande gevat en die speelveld voorberei vir die private sektor om deel te neem aan die stryd om die ANC by die stembus te klop. Die bal is nou ook in die burgerlike organisasies se hande om te help om ’n wedstrydplan op te stel waarmee dit gedoen kan word.”

Benewens die agt politieke partye van die Veelpartyhandves, was verskeie burgerlike organisasies verteenwoordig, onder meer AfriForum, die Afrikanerbond, die FW de Klerk-stigting, die Helen Suzman-stigting, die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV), die Johannesburgse Kamer van Koophandel, Kaapse Forum, die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), Solidariteit en die Afrikaanse Taalraad.

“Die realiteit van die situasie is dat dit die kiesers is wat eindelik besluit wie regeer die land. Die sterkste, gesamentlike boodskap wat na die kiesers gestuur moet word om dit te vermag, is om te registreer en te stem. Daar is niemand in Suid-Afrika wat nie reeds self moes inspring op elke gebied waar die regering faal nie.

“Van slaggate tot die stryd teen misdaad het Suid-Afrikaners reeds hande gevat om na hul eie belange om te sien waar die ANC-regering versuim om sy grondwetlike verpligtinge na te kom. Maatskappye wat nou hul eie geld moet gebruik vir dienste wat die staat veronderstel is om te lewer, kan hierdie geld beter aanwend om die ondernemings te laat groei en werk te skep.”

Volgens Mulder wou die politieke partye van die burgerlike samelewing en organisasies hoor wat hulle voorstelle en aanbevelings is. “Daar moet in gedagte gehou word dat die Grondwet slegs veertien dae tyd gee om ’n koalisieregering na ’n verkiesing saam te stel. Daar moet nou reeds oor die verwagtinge gepraat word wanneer dit gebeur.”

Die Veelpartyhandves het in ʼn gesamentlik verklaring gesê die byeenkoms is gereël om van burgerlike organisasies te hoor wat hul verwagting rakende die Veelpartyhandves is, hoe daar saamgewerk kan word om Suid-Afrika se politieke trajek te verander en hoe ’n Veelpartyhandves-regering ’n nuwe raamwerk kan skep om saam met die burgerlike samelewing te werk in ’n nuwe koalisieregering.

“Onderwerpe wat gedek is, sluit in hoe om die ekonomie te laat groei, misdaad en korrupsie te pak, die kiesstelsel te hervorm en te beskerm, die Grondwet en instellings te beskerm, die mag van die private sektor te ontketen, die kapasiteit van die openbare sektor te versterk, die onderwysstelsel te verbeter en kiesersopvoeding en -registrasie te bevorder. Dit is duidelik dat ons almal lief is vir hierdie land omdat ons glo Suid-Afrika het geweldige onvervulde potensiaal.”

Volgens die Veelpartyhandves is hy verbind tot volgehoue betekenisvolle betrokkenheid by die burgerlike samelewing, met erkenning van die uiters belangrike en groeiende rol wat die burgerlike samelewing vandag in Suid-Afrika speel om aktief in te staan vir die mislukte ANC-regering. “Slegs deurlopende samewerking met die burgerlike samelewing kan ons stede, provinsies en land omkeer. Die Veelpartyhandves is verbind tot hierdie projek. Ons sal gestalte gee aan die insette wat ons van die burgerlike samelewing ontvang het in ons voortgesette proses om gemeenskaplike grond te bou rakende beleid en bestuur op pad na ’n nuwe regering in 2024.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Kerrie ·

Stem julle maar weer self uit die 30 jaar fiasco uit….julle het julle self in gestem …lol.

Jaco ·

Die ACDP, DA, VF-Plus en IVP is almal in dié veelpartyhandves. Die ACDP is teen aborsie; die DA is ten gunste daarvan. Die vf-plus is teen regstellende aksie; die DA en die IVP is ten gunste daarvan. SO, ek wonder maar net, hoe gaan diè veelpartysamewerking nou eintlik werk?

Althes ·

Alle goedheid en guns op die veelpartye, drukgroepe en organisasies. Volgende jaar is ñ kritieke jaar vir SA.

Danie ·

Soos die engelse term se.What ever it takes.Ek is in.Dis nou of nooit elke mens moet nou saamstaan en stem.

Jedi Knight ·

Handves? Hhhmmmmm……iewers het ek daai woord al gehoor…. O ja, nou onthou ek. 1994 se handves van menseregte. :):):)

Jack ·

Julle het ‘n enorme taak op hande.Julle gaan miljoene ongeleterde mense moet “leer” die basiese beginsels van ‘n ekoniemie en hoekom hulle nie vir die ANC moet stem nie.Julle gaan dit baie eenvoudig moet maak en verduidelik aan mense wat ‘n gemiddelde IK van 70 het.Eers dan kan julle dalk ‘n paar kiesers wen.Maar om net te verwag dat die mense sal anders dink en stem is wensdenkery.

Manie ·

Dankie vir julle poging, maar julle sal meer stemme as al die kommunistiese partye saam, moet ontvang om die ANC te lig en dit gaan nie gebeur nie.

Aai ·

Dit is goed wat julle doen maar die EFF is daar om die @nc oor die rand te help.

Marthinus Johannes ·

2 of 3 of 10 partye buiten die ANC sal nie die ANC klop nie. Al die ander partye moet 1 (EEN) party vorm en as een party stem om dit reg te kry. En almal is Nog steeds na-ief. Koelisies het nog nooit nie gewerk nie, veral as die ANC en EFF deel van die koalisie is . Allenlik met net 2 partye Kan die een die ander een uitstem, maar wanneer daar meer as 2 partye is het een altyd meer as 50% van die stemme en due ander partye speel rond met die die ander 50%>

hpven ·

Wow! Dit het julle 29 jaar geneem om tot hierdie slotsom te kom! Vir 29 jaar was alle politieke partye teenwoordig, ja deel van die agteruitgang en verval. Daar was metodes tot jul beskikking asook ‘n mandaat om namens ons, die kiesers, op te tree. Wat het julle gedoen en wat gaan julle nou doen, wat gaan nou verander?
Ons het egter geen keuse as om julle “wakker roep” te ondersteun nie want daar is tans geen alternatief nie. Al wat ons egter NOU wil sien is minder praat en werklike resultate!

Sobymykoolkop ·

Sal iemand my kan help? Ek stem VF+ oor my waardes ooreenstem.Nou werk hulle saam ander wat baie onnoembare dinge voorstaan? Wat is die punt van partye dan? Smelt saam as een….maar nee, ons moet almal salarisse kry .

Karel Kobus Kruger ·

Die ANC sal met die hulp van 1 of 2 klein omkoopbare partye weer meer as 50% kry. Daai klein partye se leiers word betaal om stil te bly, en die ANC regeer soos altyd. Maar sterkte aan die Veelpartyhandves. Maklik om jouself in die gemors in te stem. Baaaanja moeiliker om jouself daaruit te stem.

DJ ·

Ten spyte van al die negatiewe kommentaar wat hier gelug word, moet ons verstaan dat hierdie poging tot koalisie regering is die enigste hoop wat ons het om ons land te red van die ANC. Kom ons gooi almal ons gewig in agter hierdie poging en maak darvan ‘n sukses.

Frank ·

Bravo ja DJ, die klomp laat mens dink hulle mentaliteit is nie veel anders as die ANC wat eerder afbreek ipv opbou nie. Aanvaar en omhels eerder sub standard dinge en probleme en weerstaan positiewe en opbouende dinge

Wakkerslaper ·

Ek worstel met ‘n paar probleme hier… 1 – Ek kan nie die samewerking met anti-Christelike en ongelowige partye goedkeur en daarvoor stem nie (2 Kor 6:14). 2 – Die ANC gaan hom nie sommer net laat “uit” stem nie. Wat wel kan gebeur en wat ‘n TOTALE gemors gaan wees, is ‘n koalisie tussen die ANC die EFF bloot om die mag te behou… 3 – Selfs al sou dit bo alle wonder gebeur dat die ANC “uit” gestem word, gaan die land eenvoudig onregeerbaar gemaak word – SA se geskiedenis leer ons dit…

Ek sien eenvoudig nie lig in hierdie donker tonnel nie…

Republikein in die Wes Kaap ·

Selfs al wen die koalisie gaan hulle na die tyd baklei. Van hulle kan by ‘n ANC koalisie aansluit.

JohanR ·

Mense sit julle gevoelens en hoe kulle voel oor die of daai party en stem tog asseblief net die ANC uit. Kan rerig nie laat hulle vir nog 5 jaar vreet nie!

Bolandse Nooi ·

As julle dink dat die ANC – en hul ondersteuners – net vriendelik die verhoog gaan verlaat nadat hulle hul buiging gemaak het, maak julle ‘n GROOOOOOOOOOOOOT fout. Julle vergeet dat Numbawan en sy breinlose volgers nog steeds in Nakaaaaaandla sit en tandjies slyp vir die ou vrot pampoen om terug te keer na die verhoog van “Nasionale Regering”. Julle kan maar saamspan en saamstaan soveel as julle wil. Die 5% minderheid sal NOOIT weer die 95% massa-meerderheid regeer nie.

Ryan ·

Google gerus die Cheran gemeenskap in Mexiko wat kriminele, die stadsraad en die polisie in hul distrik weggejaag het en self die funksies van polisie en stadsraad oorgeneem het. Dit is wat hier moet gebeur.

Oosieoos ·

Dis nou tyd om optehou negatief wees en positief samewerking te gee dat dit sal werk. Beweeg verby jou eie ego en sien die groot prentjie Dis nou of nooit.

Lettie ·

Ek dink die sogenaamde “verkiesing” is reeds gewen. Wat gaan ons in 2024 daaraan doen? Dit bly steeds “ons die belastingbetaler” se keuse of ons dit gaan goedkeur.

Republikein in die Wes Kaap ·

Ryan, só ‘n oorname kan seepglad gedoen word sonder bloedverlies. Die staat kan nie 200+ dorpe verdedig nie. Vat die land terug, skep vir skep.

Papsak ·

Wel ek vra dat God ons moet help om anc uit te lig regtig ek sien na verkiesing is SA regtig vir goed weg as hulle weer moet regeer of ek skiet myself sien nie meer kans vir die onreverdigheid nie regtig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.