Veelpartyhandves wil kragkrisis só oplos

Die Veelpartyhandves (VPH) meen die land se energiekrisis kan opgelos word deur die energiemark oop te stel en meer mededingend te maak.

Leiers en afgevaardigdes van die 11 partye in die VPH, insluitend die DA, VF Plus, IVP en ActionSA, het Woensdag by die Kelvin-kragstasie in Kempton Park bymekaargekom om hul voorstelle vir die oplossing van die energiekrisis bekend te maak.

Die VPH het daarop gewys dat die land honderde miljarde rande verloor en talle klein besighede hul deure moes sluit weens die kragkrisis en dat dit die gevolg is van die “onbeholpenheid, korrupsie en wanbestuur van Eskom” deur die nasionale regering.

Die VPH het sy plan onthul om ʼn mededingende energiemark te skep wat gefokus is op verhoogde private kragopwekking. Dit sluit in om Eskom se monopolie te beëindig, ʼn oop energiemark te vestig en ʼn regverdige oorgang na ʼn hernubare energietoekoms te verseker.

Volgens die VPH behels dit die bespoediging van die ontbondelingsproses by Eskom, die afskaffing van die pos van minister van elektrisiteit, die versekering dat aanstellings by Eskom en ander instellings op meriete gedoen word en om politieke inmenging en kaderontplooiing uit te skakel.

Al 11 partye van die VPH het op dié maatreëls ooreengekom en gesê dit daar is daaroor gekonsulteer in oorleg met kundiges en deur bestuurservaring binne eie geledere.

“Terwyl die individuele partye binne die VPH op hul eie meriete veldtogte voer, met duidelike beleid, handelsmerke en aanbiedinge, kan kiesers met selfvertroue hul stem uitbring met die wete wat elke party binne ʼn VPH-regering sal voorsien. Hierdie vlak van eenheid en visie is ongekend in Suid-Afrikaanse politiek, en is presies wat ons land nodig het,” het die partye in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

Daar is volgens die VPH ʼn dringende behoefte vir kiesers om ʼn mislukte regering te verwyder en die leisels oor te gee aan ʼn leierskap met die vaardighede, politieke wil en integriteit om die kragkrisis te beëindig. “Die VPH is daardie leierskap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Saam kan ons n verskil maak dis nou die tyd om jou stem te bring en ander aan te moedig vir hulle stemme.

Grassie ·

Dit is ‘n baie goeie en haalbare plan wat deur die veelpartymense bedink word, met net so ‘n paar haakplekke. Ek glo nie hulle gaan die huidige klomp plunderaars uit die kussings gelig kry nie. Indien wel glo ek nie hul eensgesindheid gaan die pyp rook nie. Wanneer die koek verdeel moet word gaan die hare waai met onder andere ‘n paar pigmentprobleempies wat pla. Maar kom ons hoop vir die beste

Lettie ·

Die uitkomste begin beter lyk. Ek voorsien ook dat oorgee in nuwe hande groot probleem gaan skep. Mag die Here hier regeer!

Papsak ·

Kom ons stem reg en kan dinge verbeter dinge begin draai lyk my so kom ons bid en sit GOD aan die stuur bid hard asb !!!!!?

etienne ·

@ Grassie. jy weet, negatiewe insette, is presies wat ons nou nie nodig het nie. Hou op om die doemprofeet te wees, en gee die koalisie n regverdige kans om dinge reg te ruk. Hou op om die negatiewe uit te spreek, raak bietjie positief.

Republikein in die Wes Kaap ·

etienne, Grassie is net realisties en voorbereid vir ‘n teleurstelling by die stembus. Terloops, die ANC sal net met opstande uitgeboender word. SA is net nog ‘n Afrika land.

KB ·

Gaan kyk wat El Salvador in die afgelope tyd vermag het…hulle het letterlik uit die stof uit opgestaan…NET OMDAT HULLE AS VOLK SAAMSTAAN TEEN DIE KARTELLE, MAFIA, SWAK/OMGEKOOPTE REGSLUI, ENS. ENS.

WORD WAKKER SUID-AFRIKANERS, GROEI ‘N RUGGRAAT!!!

KB ·

En El Salvador se volk het opgestaan teen die wêreld-media van Georg Soros!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.