Veels geluk, Rand!

Foto: NJR ZA, Eie werk via Wikimedia Commons

Terwyl meeste paartjies vandag Valentynsdag vier, vier geskiedkundiges die 60ste herdenking van die instelling van die rand as Suid-Afrika se geldeenheid.

Ná die aanbevelings van die Desimale Muntwesekommissie in 1958 aanvaar is, is die Britse styl ponde, sjielings en pennies vervang deur rande en sente teen ʼn wisselkoers van ongeveer R2 vir £1 in 1961, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) gesê.

Inflasie, wat teen die verbruikersprysindeks gemeet word, is die sleutel-aanduier van die wisselwaarde van geld. Suid-Afrika het sedert minstens 1895 ʼn tipe verbruikersprysindeks begin produseer en SSA verskaf inflasiesyfers sedert 1911 op sy webwerf.

Tussen 1961 en 2020 het pryse met byna 97 keer verhoog. Dit beteken dat ʼn mandjie goedere en dienste van R100 in 1961, sowat R9 700 in 2020 sal kos.

Die jaarlikse inflasie was 1,6% in Februarie 1961, en die gemiddeld vir die hele 1961 was 1,9%. Die 1960’s was ʼn periode van gemiddeld lae inflasie en het ʼn piek van 4,6% behaal in November 1966. Inflasie het tydens die 1970’s en 1980’s toegeneem en die hoogste vlak van 19,7% is in September 1986 aangemeld. Jaarlikse inflasie was gemiddeld 8% in die periode sedert die rand vir die eerste keer ingestel is.

Huishoudelike brandstof en ligte en vervoerkategorieë was in 1961 die grootste drywers van inflasie op 3,5%. Voedselinflasie was 2,1% en klere en skoene het geen verhogings in 1961 gehad nie.

Die Buro vir Sensus en Statistiek het, net soos SSA (jongste data is vir Desember 2020), gemiddelde pryse van ʼn rits verbruikersgoedere gepubliseer. Dit beteken dat interessante vergelykings getref kan word. Alhoewel die geldeenheid in 1961 oorgeslaan het na die desimaal, was die imperiale metingstelsel tot 1974 in gebruik. Vir eenvoudigheid is ʼn pond verander na 500 g, alhoewel dit nader is aan 450 g. Vergelykings word verder bemoeilik deur veranderinge in die gehalte en verpakking van goedere.

Hoe vergelyk die koste van goedere dus met vandag?

Grafika: Statistieke Suid-Afrika

  • 1 kg wit brood (winkelgebak) in 1961 het 9c gekos, in vergelyking met R15,21 vir 700 g (gesny)
  • Mieliemeel was beskikbaar in ʼn 5 kg-katoensak vir 30c – ʼn soortgelyke grootte kos vandag R49,27
  • Hoender was 70c per kg in vergelyking met R58,09 in 2020
  • 340 g blikkiesvleis het in 1961 sowat 29c gekos en ʼn kleiner 300 g-blikkie het verlede jaar R27,21 gekos
  • ʼn Dosyn groot eiers het 34c in 1961 gekos en is tans R37,60
  • Tamaties kon vir 20c/kg gekoop word en dit kos nou R20,74/kg
  • Appels het 23c/kg in 1961 gekos en kos tans R15,76/kg
  • Gemaalde koffie was 87c vir ʼn 1 pond-pakkie. Twee 250 g-pakkies word vandag vir gemiddeld R147,38 verkoop
  • ʼn Pint (570 ml) bier het 16c gekos – en jy kon die bottel teruggee vir ʼn 2c-terugbetaling! Wanneer dit toegelaat word, kan jy vandag ʼn 330 ml-lager vir sowat R14,56 aanskaf (sonder enige terugbetalings)
  • Sigarette het 19c gekos vir ʼn pakkie van 20. Dit kos nou sowat R43,14 vir dieselfde hoeveelheid.

Het jy geweet?

  • Die rand naam is afgelei van die Witwatersrand, Suid-Afrika se skatkamer van minerale rykdomme.
  • ‘n Rand word verdeel in 100 sente (voorgestel deur die letter c)
  • Die rand is beskikbaar in sewe muntstukke (5c, 10c, 20c, 50c, R1, R2 en R5) en 5 note (R10, R20, R50, R100 en R200). Daar word vanaf April 2002 nie meer een- en tweesentstukke gemunt nie.
  • Die ISO-geldeenheidkode is ZAR (afgelei van Nederlands: Zuid-Afrikaanse Rand), en die algemene notasie is die voorvoegsel R.
  • Die eerste banknote het die afbeelding van Jan van Riebeeck, die eerste Nederlandse goewerneur van die Kaap die Goeie Hoop, gedra. In die 1980’s is die note herontwerp met afbeeldings van inheemse grootwilddiere, soos die renoster, olifant, leeu, buffel, luiperd, ens. Op 11 Februarie 2013 is ʼn nuwe reeks banknote bekendgestel waarop die gesig van Nelson Mandela pryk.

Bronne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

18 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tipper

Veels geluk Rand, hoop jy oorleef.

Chris dupreez

Veels geluk Rand, net jammer jy is so verniel die laaste 26 jaar

Pampoen

Ek was vyf jaar oud. My ma het my slaghuis toe gestuur om te gaan vleis koop. Miskien so ‘n kilometer van ons huis af. Die slagter het my gehelp en toe sommer vir my so ‘n groot geel blink muntstuk gegee. Dit was my eerste kennismaking met ‘n sent.

Tanniepetoors

Ek was in Sub A. Ons het ‘n liedjie geleer: Jan Desimaal, die Rand-sentman. Gee ‘n pennie vir’n sent net waar jy kan.
Ek kan nie onthou of daar nog versies was nie, sou seker nie sê hoe min my pensioen eendag sou koop nie.

Boerkind

Ek dink ek was in St.5 toe Daan Desimaal deur die regering aan skole versprei is… wonder wie dit nog onthou??