Veerkragtige vervoerstelsel broodnodig as SA wil floreer

Kenners sê dit is nog haas onmoontlik om ʼn skadebepaling aan infrastruktuur te doen na die oorstroings in KwaZulu-Natal. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Suid-Afrika sal sy beplanning moet regkry om doeltreffend op geopolitieke gebeurtenisse – soos die oorlog in Oekraïne –  of rampe en siektes soos Covid-19 te reageer ten einde sy vervoerstelsel veel meer mededingend te maak.

Die land het boonop ʼn uitvoergeleide ekonomiese groeistrategie, en hawens – nes die res van die vervoerstelsel – speel ʼn kardinale rol in Suid-Afrika se vooruitgang, sê prof. Stephan Krygsman, verbonde aan die Departement Logistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die onlange oorstromings in KwaZulu-Natal, wat onder meer beteken het die Durbanse hawe bykans lamgelê is, het opnuut gewys waarom ʼn doeltreffende vervoerstelsel – en ʼn land se vermoë om in ʼn krisis staande te bly – so belangrik is.

Gaping vir mededingers

“Die primêre rol van hawens is om handel te stimuleer deur die hantering van vrag teen die laagste ekonomiese koste om internasionaal mededingend te wees. ʼn Hoë doeltreffendheid in die hantering van vrag in en deur die hawens kan ekonomiese groei stimuleer en is baie belangrik vir Suid-Afrika,” sê Krygsman.

“Suid-Afrikaanse hawens word egter gekenmerk deur lang wagtye, opeenhoping en ondoeltreffendheid. Soms is ons pryse om vraghouers te laai ook relatief duur vergeleke met ons vernaamste handelsvennote en natuurlik ander lande wat met ons meeding.”

Krygsman sê daar kan heelwat by hawens gedoen word om uitvoere te vergemaklik: Verseker ʼn vinnige omdraaityd van skepe, gebruik moderne toerusting en tegnologie om effektiewe en vinnige vragvloei te verseker, en verseker doeltreffende toegang tot hawens.

Suid-Afrika sukkel egter met al drie kwessies, maar veral met die tyd wat skepe in die hawe moet deurbring.

“Met die tydelike sluiting van ʼn hawe vererger hierdie probleem natuurlik. Die probleme wat ons in Durban ondervind kan natuurlik veroorsaak dat ons uitvoere en invoere daar onder ly; dit bring kostestygings teweeg, asook ʼn vermindering in buitelandse valuta,” sê Krygsman.

Ná die skade aan infrastruktuur by die Durbanse hawe is daar volstoom gewerk om die fasiliteit weer operasioneel te kry. Hoewel sekere goedere na ander hawens uitgeskuif kan word en in sommige gevalle ook gedoen is, gaan dit noodwendig gepaard met hoër koste.

“As hierdie probleem korttermyn is, sal ons relatief lig daarvan kan herstel met min langtermynskade, maar as dit ʼn langtermynkwessie blyk te wees, het ons regtig ʼn robleem.”

Gebruik sitrus as voorbeeld, sê Krygsman. Suid-Afrika is een van die grootste uitvoerders ter wêreld en die meeste sitrus gaan deur die Durbanse hawe. Indien dié produkte na ʼn ander hawe verskuif moet word, sal dit koste verhoog. Selfs erger: dit sal Suid-Afrika se mededingers ʼn kans gee om die mark te betree.

Hy waarsku as die ketting nou skade ly, kan Suid-Afrika sy markleiersrol verloor, iets wat baie moeilik is om terug te wen.

‘Indirekte koste’ kan skade oorheers

Dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, sê dit is nog onmoontlik om ʼn skadebepaling aan infrastruktuur te doen. Wat wel seker is, is dat daar tydens die herstel- en heropbouproses gefokus moet word om verbeterings aan die infrastruktuurstelsel aan te bring – én nouer met die private sektor saam te werk.

“Elke aspek van die infrastruktuur, van paaie en spoorlyne tot kragtoevoer, hawegeriewe, toegangsroetes, rioolaansluitings en waterverskaffing, kan nou só herstel word dat waar dit voorheen nie bestaan het nie of op ander plekke geweldig verswak het, verbeter kan word.

“Dit kan dien as katalisator vir groei en werkskepping,” sê Botha.

Krygsman sê ook wat ʼn skadebepaling betref sal daar op die regering staatgemaak moet word omdat net die staat weet presies watter van sy infrastruktuur – spoorlyne, paaie, hawens, en lughawens – beskadig is. Skade aan infrastruktuur is direkte skade en in hierdie stadium word die koste vir herstelwerk op rondom R17 miljard geplaas. Maar dan is daar ook die indirekte koste.

“Hierdie is die koste aan verlore produksie, verlore uitvoere, verlore geleenthede, verlore inkomste of om byvoorbeeld langer afstande na hawens te ry,” sê hy.

Dan is daar diegene wat vakansies gekanselleer het of sosiale byeenkomste wat afgestel is. Die staat verloor belastinginkomste, persoonlike inkomste vir die jaar is minder en BTW neem af weens minder transaksies.

“Hierdie indirekte koste is baie moeilik om te kwantifiseer, want ons het eintlik baie min inligting oor wat alles skade gely het.

“Dit kan egter die direkte koste oorskadu.”

Vervoer spil waarom alles draai

‘n Spoorlyn in die Durban-omgewing hang gevaarlik in die lug nadat die grond daaronder heeltemal weggespoel het. (Foto: Transnet)

Krygsman sê ʼn doeltreffende vervoerbedryf bly onontbeerlik vir die ekonomie.

“Ons is aan die suidpunt van Afrika, ver van die groot wêreldmarkte. Ons is ʼn betreklike groot land en ons poog om grondstowwe en vervaardigde goedere uit te voer. Vervoer laat alles toe en ons moet waak om dit nie te eng te beskou nie,” sê Krygsman.

“Dit is nie net ʼn manier om mense en vrag rond te beweeg nie. Dit is basies ʼn manier om die doelwitte van die samelewing te bereik – of die doelwitte is om kos te kweek, te pendel na werk, produksie en handel uit te brei, beter stede te bou, werk te skep of armoede te verminder.”

Hy sê Suid-Afrika moet hard werk om veerkragtigheid te bou, iets waarmee die Europa, Asië en Noord-Amerika baie goed is.

“Almal is soms aan die ontvangkant van opstotings en krisisse, maar veerkragtigheid bepaal hoe vinning jy daar kan uitkom. Ons kan kyk na beter beplanning van ons stede, beter infrastruktuur wat bestand is teen natuurrampe, en vervangings as ʼn bepaalde stuk infrastruktuur breek.

“Dít is die rol van die staat. Hy moet die langtermynbeplanning, of eerder toekomsbeplanning, vir ons stede en infrastruktuur doen. Een van die aspekte is om ons stede en vervoerinfrastruktuur veerkragtig te maak en om die land doeltreffend en koste-effektief te maak.”

Weens die Covid-19-pandemie het die wêreldekonomie die afgelope twee jaar ʼn insinking beleef en lande probeer die ekonomie stimuleer en handel normaliseer.

“Lande met veerkragtigheid se herstel is veel vinniger as lande wat onvoorbereid is in terme van beplanning en hulpbronne. Onthou dat ons nie weet wanneer hierdie gebeurtenisse (risiko’s) soos oorloë, natuurrampe of die Covid-19-pandemie gaan plaasvind nie,” sê Krygsman.

“Ons weet wel dat hulle gaan plaasvind. Beplanning is dus belangrik en as jy wel getref word, moet jy die gebeurtenis goed bestuur. Indien nie, raak jy agter en dit raak bitter moeilik om hierdie agterstand in te haal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

SA het eerder ‘n veerkragtige regering nodig.

Lillian

En dis seker nou vanwaar die veteroë se plan om ‘n treinspoor te befonds en te bou tussen Johannesburg en Durban …