‘Veg teen verval, maar bou self’

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. (Foto: AfriForum)

Federalisme moet binne gemeenskappe bevorder word sodat hulle ondanks die verval in die land en die onvermoë van die regering al hoe meer beheer en besluite kan neem oor kwessies wat hulle raak, sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Kriel het Vrydag by die opening van die organisasie se vierde nasionale kongres by Buffelspoort gesê die ANC en sy transformasie-gedrewe agenda gaan die voortbestaan van die Afrikaner onmoontlik maak.

“Soos wat die regering al hoe meer misluk, gaan ons al hoe meer die sondebokke gemaak word vir als wat verkeerd gaan. Ons moet dringend alternatiewe in plek kry en ons planne versnel om ons as gemeenskappe sterker en veiliger te maak en om ons in staat te stel om onsself te bestuur.

“Ons moet ’n kopskuif maak en ons toekoms in ons eie hande neem omdat ’n korrupte regering niks vir ons gaan doen nie. Om dit te bereik is meer selfdoenprojekte en selfdoeninstellings nodig.”

Kriel het onder meer verwys na die organisasie se 162 buurtwagte en sê deur ʼn buurtwag op die been te bring neem burgers aktief beheer en besluit hulle oor hul eie veiligheid en dié van hul gemeenskappe.

Hy meen dit is baie belangrik dat Afrikaners en gemeenskappe nie hoop moet verloor nie en juis in moeilike tye hoopskeppers moet wees.

“Ons voorouers het dit baie slegter gehad en hulle het ondanks baie moeilike omstandighede nie gaan lê nie en hulself opgehef.”

Hy het verwys na instellings binne AfriForum en die Solidariteit Beweging soos Pionier, Helpende Hand, Maroela Media, Akademia en Sol Tech wat vorme van federalisme is.

“Met die oprigting en uitbouing van hierdie instellings wys ons dat ons self beheer neem.”

Daar moet nietemin voortgegaan word om te veg teen verdere verval, waarsku Kriel.

Hy het verwys na AfriForum se jarelange stryd vir die behoud van Afrikaans aan Unisa waar die Konstitusionele Hof eindelik die wettigheid van Afrikaans as onderrigmedium bevestig het.

Kongresgangers by AfriForum se beraad op Buffelspoort. (Foto: AfriForum)

“Terwyl ons hierdie geveg vir die behoud van Afrikaans en Afrikaanse onderwys geveg het, is Akademia egter verder uitgebou om Afrikaanse onderrig te verseker.”

Kriel het verduidelik dat gemeenskapsplanne nie oral in die land dieselfde kan wees nie en sê gemeenskapsplanne hang van die demografie van ’n bepaalde gebied af.

“Die werklikhede in die Wes-Kaap en Limpopo is byvoorbeeld heeltemal verskillend.”

Hy het na die organisasie se ankerdorpgemeenskapstrategie verwys waar die fokus val op die beskikbaarstelling van hulpbronne waar dit tot die grootste voordeel van die gemeenskap is. As voorbeelde het hy Hluhluwe en Coligny gebruik. Hluhluwe doen uitstekend op veiligheidsgebied met een van die doeltreffendste beheerkamers in die land. Dit sal egter nie sinvol wees om op dié dorp ’n Afrikaanse privaat skool te gaan bou nie.

“In die geval van Coligny is verval groot. Mense kry nie in ’n dorp soos hierdie hul huise verkoop nie en oumense is vasgevang om hier te bly. Dit is hoekom ons moet kyk na groter dorpe wat naby aan kleiner dorpe is sodat mense hul kinders na skole hier kan stuur en toegang tot dienste en geriewe het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

annie ·

Watter twak! Hoekom nog in Afrikaans skryf? Noem voorbeelde van waar Afriforum skade en skandes veroorsaak het? Party Afrikaners wens die hele tyd hul kan elders gaan bly maar sit steeds hier op hul mishoop en kerm terwyl ander aanhou om in Afrikaans hul eie naaste by te kom wat beteken dat hul ook nie hulself respekteer nie.

Jaco ·

Nou, 27 jaar ná apartheid, is daar allerhande duur planne vir selfbestuur of onhaalbare planne vir Wes-Kaapse onafhanklikheid.
Toe die verregse AWB in die 1980s selfbeskikking & volkstaat voorgestel het, het die regerende Nasionale Party gesê dis rassisme. Die regse Konserwatiewe Party en die enersdenkende ewe regse Herstigte Nasionale Party (vreemd, dié 2 partye kon/wou NOOIT saamwerk nie) het weer gesê “ ‘n volkstaat kan nie werk nie”. In 1991, toe ALMAL al geweet het dat die ontbande ANC ‘n veelrassige verkiesing sou wen, het net 60 mense darem Orania gestig, maar na 30 jaar bly daar minder as 2000 mense, wat terloops in 8 kerke verdeel is
Byna 1 miljoen nee stemme van 1992 se referendum was in 1994 af na 425 000 vir die VF-Plus. Die Konserwatiewe Party het mos die 1994-verkiesing geboikot. Daarna het die VF-Plus minder stemme met elke verkiesing gekry.
Met “Dit kan nie werk nie” en gebrek aan samewerking en belangstelling grawe ons eie mense dus al vir jare ons eie graf…

Harley Davidson ·

En nou is ‘n onafhanklike tuisstaat die verskil tussen uitsterwing en oorlewing.

KB ·

In watter party se manifes staan dit duidelik, soos wat mnr. Kriel dit hier gesê het? (Leidraad: Groen)
Dis duidelik dat praat alleen nie werk nie, praat alleen het nog nooit gewerk nie. DOEN is wat punte tel!

Dup ·

Die A en C het vir jare “gestruggle” net om by die geldkoffers uit te kom.Hulle is nie in staat om die land op enige vlak te bestuur nie.Dit is waarom die munisipaliteite die een na die ander misluk en nasionale bates soos bv Eskom en Denel almal in die grond in “bestuur” is.

Philip ·

Party sogenaamde stoepsitters en soek geselskap kantlyn kommentators julle was ook die ouens wat jare lank op die kantlyn gestaan en in goeie boeretaal die tuie bevuil het.

Di ·

Afriforum, hou vol met julle goeie werk! Julle is die enigste organisasie wat nog opstaan teen die ANC kaders en baklei vir ons regte

Papsak ·

Afriforum julle monde is groot staan bietjie op vir die wittes en kyk vir werk en bly plek maar nee julle doen niks julle te bang vir die ANC

JM ·

Dankie Kallie vir die uitstekende werk wat julle doen. Mag julle van krag tot krag gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.