Vegskip-botsing: Vragskip het glo U-draai gemaak

Die beskadigde USS Fitzgerald by Yokosuka-vlootbasis, suid van Tokyo (18 Junie 2017) Foto: AP Photo/Eugene Hoshiko

Die soektog na sewe Amerikaanse matrose wat verdwyn het nadat hul vegskip met ʼn vragskip naby die Japannese kus gebots het, is afgelas nadat verskeie liggame Sondag in die skip se oorstroomde kompartemente gevind is.

Vlootduikers het “ʼn aantal liggame” in die USS Fitzgerald gevind, ʼn dag nadat die vegskip teen ʼn Filippynse vragskip, vier keer sy grootte, gebots het, het adjunk adm. Joseph Aucoin, bevelvoerder van die Amerikaanse 7de Vloot gesê. Aucoin wou nie tydens ʼn perskonferensie in Yokosuka die getal bekend maak nie, omdat alle naasbestaandes nog nie gekontak is nie.

Aucoin het gesê meeste van die 300 bemanningslede het geslaap toe die botsing Saterdag om 02:20 plaasgevind het.

Die Fitzgerald se kaptein, kdr. Bryce Benson, is met ʼn helikopter na die Vloothospitaal geneem. “Sy kajuit is vernietig. Hy is gelukkig dat hy leef,” het Aucoin gesê.

Aucoin wou nie spekuleer oor die oorsaak van die ongeluk nie en het gesê ʼn deeglike ondersoek sal gedoen word.

Die skade aan die vegskip dui daarop dat die vragskip, die ACX Crystal, dit moontlik teen ʼn beduidende spoed getref het. Dit laat vrae ontstaan oor die kommunikasie tussen die twee vaartuie, veral gegewe hoe besig die water in die gebied is. Tot 400 skepe vaar daagliks deur die gebied, aldus Japan se kuswag. Daar is veral baie verkeer in die vroeë oggendure, met skepe wat vrag vervoer vir vroeë aflewering in Tokyo. Die water het ook vinnige strome, en dit is ʼn moeilike gebied wat ervaring en vaardigheid vereis om deur te navigeer.

Die ACX Crystal weeg 29 060 ton en is 222 meter lank, baie groter as die vegskip van 8 315 ton.

Sommige skeepsopsporingsprogramme wys dat die vragskip ʼn U-draai gemaak het, kort voor die botsing plaasgevind het.

Dit het nie aanvanklik gelyk of die vragskip enige skade opgedoen het buiten duike en skaafmerke nie, maar ʼn groep ongeluksondersoekbeamptes van die Japannese ministerie van vervoer het Sondag bevind dat die vragskip onder die waterlyn beskadig is. Beeldmateriaal van die Japannese uitsaaier NHK wys ʼn skerp horisontale sny wat byna soos ʼn haai se bek lyk. Daar is ook talle skraapmerke aan die voorkant van die skip.

Al 20 bemanningslede van die ACX Crystal is veilig, het die Japannese skeepsmaatskappy, Nippon Yusen KK, wat die skip bedryf, gesê. Die Japannese kuswag het die bemanningslede van die vragskip ondervra en hanteer die voorval as ʼn saak van moontlike professionele nalatigheid, het Masayuki Obara van die kuswag gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Scalla ·

Die see is net só groot, hoeveel wil hul nog hê om n skip te draai, lmga

Klip in die bos ·

Moontlik ‘n taxi bestuurder wat ‘n nuwe beroep uittoets met die dat taxi’s so duur word….??

popeye ·

Kon die Fillepynse skof aan diens daai tyd van die oggend Amerikaans (Engels) verstaan? Iets soos: “ons weier om bes te gee want ons is ‘n oorlogskip” jammer vir die Vlooties wat dood is, dit is gruwelooslik onnodig gewees gegewe die reaksietyd voordat soiets gebeur.

Eish ·

Professionele nalatigheid.
Hul kan kom leer in Suid Afrika. Ons het n regering wat ook die professie met onderskeiding beoefen. Die enigste verkil is die Amerikaanse skip kan herstel word, ons sin is gesertifiseer as ” Junk” na die botsing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.