‘Veilig hier’, toe verdwyn man  

Jaco Drinkwater word sedert Sondag vermis. (Foto: Verskaf)

“Veilig hier.”

Dít was die laaste boodskap wat Jaco Drinkwater (46) se familie Sondag om 15:15 van hom ontvang het. Hy het sedertdien skoonveld verdwyn. Hy het ook nie ʼn afspraak om sy kinders in Vryburg te sien nagekom nie.

Drinkwater het van Malmesbury in die Wes-Kaap na Schweizer-Reneke in Noordwes vir sake gereis. Hy is ’n werktuigkundige by Northmec (Case), ’n landbou-onderneming, se tak in Malmesbury.

Volgens sy werkgewer, André Niewoudt, sou Drinkwater met oeste in dié dorp, waar Nothmec nog ’n tak het, gaan help.

“Hy het Sondagoggend 06:00 in ’n wit Hilux-bakkie (nommerplaat: CK49913) met rooi en grys kentekens uit Malmesbury vertrek. Ons weet nie waar hy is nie en die opsporingsapparaat in die voertuig het sein verloor.”

Drinkwater se broer, Nardus, sê sy broer het deur Vryburg na Schweizer-Reneke gery sodat hy sy kinders, wat op dié dorp woon, by die plaaslike Spur vir ’n vinnige kuier kon kry.

“Ons was [Sondag] deur die loop van die oggend met hom in kontak. Niks was uit plek nie. Om 15:15 het ons ’n boodskap ontvang dat hy veilig daar is.

“Toe ons later wou hoor hoe die kuier met die kinders was kon ons hom nie hande kry nie. Sy gewese vrou het ook gebel en gevra waar hy is aangesien hy nooit opgedaag het om sy kinders te sien nie,” sê Nardus.

“Ons is in dié stadium heeltemal in die donker.”

“Jaro (soos sy familie hom noem), ons sal jou kom haal waar jy jou ook al bevind. Ons gebede is met jou en ons vertrou jy is veilig,” sê Lydia Drinkwater, Drinkwater se ma.

Niewoudt was tydens sy gesprek met Maroela Media Dinsdagoggend op pad om ʼn saak van ʼn vermiste persoon by die polisie aanhangig te maak.

Enigiemand met meer inligting kan Niewoudt by 066 218 3998 bel, of Lydia by 072 807 6931.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Misky ·

Sterkte aan die familie en ons dra julle en Jaco in ons gebede op en dat hy veilig gevind word. Kan net indink waardeur julle moet gaan

Francois Le Cochon ·

Ek hoop maar hy het ook net soos die blokmam van n slagtery in Oudsthoorn, die bakkie gevat, en verdwyn met vakansie.

Bytjienw ·

Sy ma het so rukkie terug op haar FB profiel laat weet dat hy veilig gevind is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.