‘Veilige begroting’, gevaarlike gevolge?

geld-finansies-spaar-begroting-belegging-deur-stevepb-op-pixabay

(Foto: Stevepb/pixabay)

Vanjaar se begroting het ʼn oënskynlike toegewing gemaak aan die finansiële druk waaronder belastingbetalers verkeer deur nie persoonlike belasting te verhoog nie. Mazars wys egter daarop dat die minister se weiering om die belastingkerwe vir inflasie aan te pas, in werklikheid steelsgewyse belasting is.

Tertius Troost, senior belastingbestuurder by Mazars, sê wanneer ʼn belastingbetaler ʼn inflasieverwante salarisverhoging ontvang, kan die verhoging dié salarisstrekker in ʼn hoër belastingkerf plaas, wat beteken hy moet dus meer belasting betaal.

“Net so is die mediese belastingkredietkoers ook nie vir inflasie aangepas nie.

“Albei hierdie maatreëls, soos die minister in sy toespraak erken het, sal ʼn groot rol speel om ʼn ekstra R15 miljard in te samel om druk op die fiskus te verminder en om met die stabilisering van die land se hoë skuldvlakke te help.”

Oor die algemeen is Mazars se konsensus-siening dat dit ʼn tipiese verkiesingsjaarbegroting is en die minister het gekies om geen knuppels in die duiwehok te gooi nie.

“Gegewe die moeilike finansiële situasie waarin die land hom bevind, sou ’n meer fundamentele benadering om die status quo te verander wensliker gewees het. Die enigste oplossing is om groei aan die gang te kry en daar was min aanduidings van iets nuuts om hierdie proses te begin. In die besonder was daar feitlik geen melding van maatreëls om klein, mediumgrootte- en mikrogrootte-ondernemings (KMMO’s) te help groei nie.”

Troost meen dat dit ʼn “veilige begroting” is, maar gegewe die land se finansiële situasie, ook gevaarlik kan wees.

Wat van NGV?

Soos verwag, het die begroting wel voorsiening gemaak vir die NGV ten bedrae van R1,4 miljard. Dit is egter opmerklik dat hierdie ʼn relatief klein toewysing in vergelyking met die uiteindelike algehele koste is. “Dit is gemik op dit wat ʼn mens voorlopige werk kan noem, wat waarskynlik baie tyd gaan neem,” sê Troost.

Een van hierdie items is die bou van ʼn nasionale inligtingstelsel vir mediese rekords, ʼn massiewe taak met aansienlike privaatheid- en veiligheidskwessies wat oorkom moet word.

“Daar kan aangevoer word dat, terwyl die regering se verbintenis tot die NGV bevestig word, hierdie begroting ʼn boodskap uitstuur dat dit nog lank gaan neem,” sê Troost.

Alternatiewe geskilbeslegting (ADR)

Troost sê die voorstel dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die geskilbeslegtingsprosesse met betrekking tot belastingaangeleenthede ingevolge die Wet op Belastingadministrasie hersien, word verwelkom.

“Op die oomblik is alternatiewe geskilbeslegting (ADR) slegs in die appèlstadium beskikbaar. Die SAID kry ʼn mandaat om die geskilbeslegtingsproses te hersien om die doeltreffendheid daarvan te verbeter en dit kan meebring dat ADR’e tydens die beswaarfase van ʼn belastingdispuut toegelaat word.

“Hierdie maatreëls kan help om die huidige appèl-agterstand te verminder. Mazars glo egter dat dit versigtig hanteer moet word om te verseker dat die veranderinge ʼn positiewe impak maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.