Veilige ‘besoekersdag’ by Koster-begraafplaas

Koster se begraafplaas soos dit nou lyk nadat lede van die gemeenskap ingespring het om dit skoon te maak. (Foto: Verskaf)

Begraafplase het landwyd ʼn teelaarde vir misdaad geword. Daarom het die gemeenskap van Koster in Noordwes besluit om ʼn besoekersdag van stapel te stuur waartydens inwoners van dié dorp die grafte van familielede met gemoedsrus kan besoek.

In Julie vanjaar het die stigterslede van die “Koster: Van toeka tot nou”-blad op Facebook hulle lede uitgedaag om geld te skenk om noodsaaklike opknappings op die dorp te bewerkstellig.

Die eerste prioriteit op die opknappingslys was die begraafplaas, wat so oorgroei was dat dit heeltemal ontoeganklik was en ʼn broeiplek vir misdadigers geraak het.

CF Grundling, een van die stigterslede van die Facebook-blad, sê aan Maroela Media die gras het heuphoogte gestaan voordat hulle in Julie self ʼn opruimingspoging aangewend het.

Daar is onder meer van ʼn padskraper gebruik gemaak om die begraafplaas skoon te maak. “Baie mense het vir ons gesê hulle wil graag die begraafplaas besoek, maar is te bang hulle word die slagoffers van misdaad. Ons het toe besluit om ʼn besoekersdag met die nodige beveiliging van stapel te stuur.”

Volgens Grundling sal daar op Saterdag 11 September veiligheidswagte en motorwagte by die begraafplaas aan diens wees om die grafbesoekers gemoedsrus te gee.

“Die gemeenskapspolisiëringsforum gaan ook ʼn draai kom maak en ons gaan pannekoek, koeldranke en selfs klein ruikers vir die grafte te koop aanbied in ʼn poging om nog geld in te samel vir verdere opknappingsprojekte op die dorp.”

Grundling sê hulle ontvang geen hulp van die plaaslike munisipaliteit nie en al die projekte word self deur die gemeenskapslede onderneem.

“Daar is nog verskeie verbeteringe wat ons by die begraafplaas wil aanbring en ons wil dit as’t ware in ʼn spogbegraafplaas omskep. Daar is van die grafte wat skade gely het en grafte wat uit die 1920’s dateer wat deur niemand opgeknap word nie omdat daardie familielede ook almal reeds afgesterf het.”

Sy grootworddorp lê hom na aan die hart, en daarom sal hy geen moeite ontsien om saam met sy vennote die opknappingsprojekte van stapel te stuur nie.

“Koster is ʼn klein dorpie waar almal mekaar ken. Dit is ʼn hegte gemeenskap en almal gee om vir mekaar. In krisistye trek almal laer en jy weet jy hoef nie alleen te sukkel nie.”

Hy sê hulle ontvang goeie terugvoer oor die besoekersdag by die begraafplaas. “Die gemeenskap is dankbaar vir ons moeite.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel ·

Begin deur do diens te reel deur die Plaaslike Gemednskap

Dit kan gedoen word

Aai ·

Grondbelasting word betaal maar nie deur meerderheid so gaan alles agteruit.

Philip ·

Die begraafplaas tussen Klerksdorp en Stilfontein is om van naar te word .Dit is n waagspul om blomme op jou mense se grafte te gaan sit alles is so toegegroei dat jy letterlik n lang tyd moet spandeer om die graf te vind.Dit is waar die rowers vir jou le en wag.

Jubba ·

Die enigste verweer is om erfbelasting te weerhou en daai geld self aan te wend om die werk te doen. Sasolburg begraafplaas lyk maar net so as ons nie self die onderhoud doen nie.

Sarel ·

Op Vanderbijlpark reel Afriforum gereeld besoeke 1 x Sondag pm. Aan die Plaaslike Begraafplaas

JohanR ·

Dankie tog my Pa le begrawe in Pretoria-Noord waar die familie nog veilig in die dag kan besoek self alleen vir ‘n man…..sou nooit aanraai vir ‘n vrou, want ‘n vrou is maar nerens veillug in SA. My oom le in ‘n ander brgrafplaas in Pretoria, waar niemand kan naby kom nie want daar word vir jou gewag. Ek het al amper besluit om liewer veras te word, en my oorskot in ‘n muur te laat in mesel veral in die tyd van Covid waar nie veel mense kan ‘n begranis bywoon nie. Hou liewer ‘n klein roudiens.

Danie ·

Sulke nuttelose munisipaliteite laat n bitter smaak in die belastingbetaler se mond.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.