Veilige hawe vir diere in Noordwes moet dalk deure sluit

(Foto: Facebook/Shalom Animal Rescue Centre)

Die Shalom-dierebeskermingsentrum wat in die klein plattelandse dorpie Glaudina naby Schweizer-Reneke geleë is, moet dalk noodgedwonge sy deure sluit weens finansiële tekorte.

Die dierebeskermingsentrum in die hartjie van Noordwes is in 2013 op die been gebring en is in 2018 geregistreer as ʼn organisasie sonder winsbejag.

Noordwes is een van die armste provinsies in die land, en verwaarlosing en onbeheerde teling van diere kom gereeld hier voor. Die naaste Dierebeskermingvereniging (DBV) is ongeveer 250 km ver en daar is geen ander dierebeskermingsentrums of -skuilings om na verwaarlose en verlate diere se welsyn om te sien nie.

Die behoefte aan hierdie organisasie is dus geweldig groot – en dit groei daagliks.

Diere het nie ʼn stem nie en sonder die harde werk, persoonlike opofferings en die toewyding van Joan Nel, stigter en eienaar van die Shalom-dierebeskermingsentrum, en haar span, sou soveel diere geen kans op oorlewing gehad het nie.

Dié dierebeskermingsentrum sien daagliks na talle diere, mak sowel as wild, om.

Die Shalom-dierebeskermingsentrum ontvang egter geen befondsing van die staat nie en Nel en haar span werk onvermoeid om verlate, verwaarloosde, beseerde en mishandelde diere te red.

(Foto: Facebook/Shalom Animal Rescue Centre)

Hulle moet dikwels hul eie behoeftes ignoreer om diere in nood te voed, te verhuis en te rehabiliteer.

Nie een van die betrokke persone ontvang egter ʼn salaris nie – al hulle harde werk is vrywillig en spruit uit hul onvoorwaardelike liefde vir diere.

Nadat Nel gesien het hoeveel verlate en verwaarloosde diere daar in Schweizer-Reneke en die omgewing is, het sy geweet dat sy ʼn verskil moet en kan maak.

Vandag doen die organisasie wydverspreide uitreik-werk en sien hulle na ongeveer 300 township-honde om.

Dit behels hulp met voeding, dip vir vlooie en bosluise, verskaffing van veeartsenykundige sorg, sterilisering asook opvoeding aan eienaars oor die belangrikheid van behoorlike diereversorging en sterilisering.

Die Shalom-dierebeskermingsentrum versorg ook talle wilde katte en rondloperhonde in die streek.

Die dierebeskermingsentrum is altyd gereed om plek te maak vir ongewenste diere en is tans die tuiste van 77 honde, nege katte, drie perde, een donkie en drie hoenders.

Die skuiling is nie net ʼn veilige hawe vir honde en katte nie, maar red en rehabiliteer ook ander diere, insluitend voëls, krimpvarkies, donkies en nog meer.

Hier word hulle met liefde oorlaai en versorg totdat hulle gereed is om huise te vind. Indien hulle nie verhuis kan word nie, bly die dierebeskermingsentrum hul veilige hawe.

Die plaas waarop die sentrum bedryf word, word tans deur die Shalom-dierebeskermingsentrum gehuur, maar die organisasie wil baie graag sy eie, permanente perseel hê. Die sentrum het ook kos vir die diere broodnodig.

Die organisasie het intussen ʼn skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy begin om die dierebeskermingsentrum se deure oop te hou.

Posted by Shalom Animal Rescue Centre on Friday, March 29, 2024

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.