Veiligheid by hof opgeskerp ná dubbele moord

Argieffoto: SAPD

Durban se hooflanddros het erken veiligheidsmaatreëls by die stad se landdroshof – waar ʼn dubbele moord verlede week gepleeg is – is onvoldoende.

Al was landdros Edmund Ngubane nie bereid om te bevestig hoeveel veiligheidsbeamptes by die hof diens doen of met hoeveel hulle sal vermeerder word nie, het hy wel gesê: “Ons het nie genoeg sekuriteit by die hof nie.”

Hy verwys na die dubbele moord as ʼn “wekroep”.

Ngubane het Maandag die media toegespreek oor verbeterings aan die veiligheidsmaatreëls ná die voorval, wat byvoorbeeld insluit ʼn verbod op vuurwapens vir diegene wat nie hofordonnanse is nie.

John Jeffrey, adjunkminister van justisie en grondwetlike beplanning, en Pat Moodley, die departement van justisie se streekhoof, het hulle by hom aangesluit.

Die 32-jarige polisieman Phumlani Chiliza het sy vervreemde vrou op Maandag 26 November in die hofsaal doodgeskiet tydens hul egskeidingsverhoor en toe die vuurwapen op homself gerig. Hy is later in die hospitaal dood.

Niemand mag meer ʼn vuurwapen in die hof inbring nie.

Jeffrey sê hy wag nog op ʼn volledige verslag omtrent die voorval. “Die verslag moet volledig wees. Daar moet ʼn ondersoek na die voorval wees; dus sal daar ʼn hofondersoek wees na presies wat gebeur het. Dis nie iets wat ons wil afjaag nie.

“Ons het strenger begin optree in die hof in dié opsig dat niemand meer ʼn vuurwapen in die hof mag inbring nie, tensy dit ʼn hofordonnans is,” het hy gesê. “Dis ʼn polisiebeampte wat aan ʼn hof toegewys word om veiligheid in die hof te verseker, maar niemand anders nie.”

Jeffrey het gesê die hofordonnanse is “polisiemense” wat toegelaat sal word om vuurwapens in die hof in te bring. “Hulle is nie emosioneel by sake betrokke nie; dus behoort daar nie ʼn probleem te wees nie.”

Hy wou hom nie uitlaat oor die evaluering van polisie- of veiligheidsbeamptes wat in howe gebaseer is se geestesgesondheid nie, maar het gesê in dié betrokke geval was die polisieman betrokke by die saak, wat ʼn “emosionele element” bygevoeg het. Hy het die hoop uitgespreek dat dit “’n geïsoleerde geval” was.

Ngubane het gesê in die geval van private sekuriteit in hoëprofielsake sal gelisensieerde veiligheidsbeamptes nie aan die verbod onderhewig wees nie, maar hulle sal vooraf reëlings met die hooflanddros of hofbestuurder moet tref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maljan ·

Van wanneer af kon mens dan met jou vuurwapen in die hof ingestap het?

Poot ·

REGTIG!!!!!!!
Sedert wanneer het die voorskrifte “weggeraak” wat bepaal dat net hofordonannse hul vuurwapens die hof mag binne bring?
GENADE!!! Hoe onbevoeg is die klomp in hierdie land van ons?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.