Veiligheid by landdroshof skok

Argieffoto

Gevaarlike wapens is glo verlede week tydens inspeksies by die Humansdorp-landdroshof in die Oos-Kaap gevind wat die veiligheid by dié hof in die soeklig geplaas het.

Malcolm Figg, die DA se skaduminister van openbare werke, het Maandag in ʼn verklaring gesê die inspeksie is op 21 en 22 Junie deur DA-raadslid, Henni Britz, op aandrang van hofpersoneel uitgevoer.

“Die bevinding was kommerwekkende onveilige toestande vir die personeel en lede van die publiek,” het Figg gesê.

“ʼn Gebrek aan sekuriteitsmaatreëls by die hofgebou het daartoe gelei dat gevaarlike wapens gevind en op beslag gelê is. In een voorval het twee mans, wat messe by hulle gehad het, toegang tot die hofgebou verkry en ʼn panga-tipe wapen is ook in die enigste manstoilet gevind waar dit weggesteek was. Dié toilet is oorkant die hooflanddros se kamers, wat maklik toeganklik is vir lede van die publiek, beskuldigdes en getuies,” het Figg gesê.

Geen inhegtenisnemings is in verband met die wapens gemaak nie en geen saak is deur veiligheidspersoneel by die polisie aanhangig gemaak nie.

Figg het gesê ten tyde van die inspeksie was daar glo net een veiligheidsbeampte aan diens by die ingang en daar was geen metaalverklikkers in sig nie.

“Dit is nie ʼn aanvaarbare professionele omgewing waar die lewens van landdroste, staatsaanklaers en hofpersoneel op ʼn daaglikse grondslag in gevaar is nie,” het Figg gesê.

Volgens Figg is daar sedert 2006 goedkeuring om veiligheid by die hof te verbeter, maar het die departement van openbare werke en departement van justisie glo sedertdien geen vordering gemaak nie.

“As skaduminister sal ek die kwessies in die parlement met die minister van openbare werke opneem. Dit is onaanvaarbaar dat die regering faal om ná al die jare ʼn veilige hofgebou te verseker,” het Figg bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jakes ·

Dit verbaas my nie dat daar power veiligheidsmaatreels by engie openbare plek of hof is nie. Veiligheidsmaatreels is n luukse in SA. Die misdaad vlakke is n bewys daarvan. Daar moet eers iets afskuwelik gebeur voordat daar dan besluit word om iets aan te spreek. Dis die nuwe SA, n land wat reeds oor die afgrond regeer is.

Robert ·

Wat van die getuies se lewens wat op daaglikse grondslag in gevaar is, asook vals beskuldigde persone.

Ai toggie ·

Die Oos-Kaap bly in die nuus met slegte en negatiewe veiligheidssake!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.