Veiligheid by NMMU opgeskerp ná petrolbom-voorval

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) het streng veiligheidsmaatreëls ingestel om te verhoed dat die gewelddadige #FeesMustFall-betogings van verlede jaar vanjaar by die universiteit hervat.

ʼn Gebou op die universiteit se suid-kampus is Saterdagaand met petrolbomme bestook, nadat twee geboue verlede jaar op die suid-kampus onder brandstigters deurgeloop het.

Derrick Swartz, NMMU se visekanselier, het in ʼn verklaring die petrolbom-aanval ten sterkste veroordeel en gesê die universiteit sal “buitengewone” maatreëls instel om veiligheid op die kampusse op te skerp. Hierdie maatreëls sal die patrollering van al die geboue insluit, asook strenger toegangbeheer en maatreëls om studente se bewegings op die kampus  na-ure te beheer, veral rondom noodsaaklike infrastruktuur.

Studente en personeel sal voortaan hul NMMU-identiteitskaarte te alle tye by hulle moet dra. Volgens Swartz het die universiteit ʼn blitslyn op die been gebring, waar inligting oor die petrolbom-aanval aangemeld kan word. Alle inbellers se identiteit sal beskerm word.

Swartz het gesê die NMMU verwerp kriminele optrede wat voorgehou word as ʼn politieke eis vir gratis hoër onderrig. “Dit is doodeenvoudig onaanvaarbaar, blatante misdaad en het geen plek in ons demokratiese samestelling nie. Ons weet dit verteenwoordig nie die oorgrote meerderheid mense wat veg vir gratis hoër onderwys nie, maar daar moet geen onduidelikheid wees oor hoe uiters verkeerd dit is nie,” het hy gesê.

“Ons moet die idee wat dikwels na vore gebring word, dat geweld op een of ander manier geregverdig is deur die bestaan van strukturele geweld soos armoede, werkloosheid en ongelykheid, verwerp. In ʼn demokratiese samestelling het dit geen wetlike of morele grondslag nie. ʼn Mens kan nie in die dag volgens die regte van ons Grondwet leef en dan, wanneer dit jou pas, in die nag buite jou grondwetlike verpligtinge leef nie.”

Swartz het gesê hierdie “gevaarlike en hoogs gebrekkige redenasie” beteken enige onwettige optrede kan uiteindelik deur hierdie kringloop-logika geregverdig word. “En soos die verlede al bewys het, dieselfde geweld word dikwels teen jou gedraai. Ons moet dringend ʼn einde bring aan hierdie geweld, voordat dit te laat is.”

Intussen ondersoek die polisie ʼn saak van brandstigting in verband met die skending van die gebou Saterdagaand. Die polisie het twee petrolbomme op die toneel gevind, asook graffiti op die mure wat gelui het:  “The ANC Must Fall”, “Zuma Must Fall” en “Fees Must Fall”. ʼn Sak vol klippe is ook deur die gebou se glasdeure gegooi.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jem ·

Volgens die Christelle Bybel gaan die wereld vermaak deur vuur. Laat hulle maar alles af brand. Hulle word tog maar gelos om daarmee aan te gaan. Hulle wil aand ring op free education maar kan nie eers hulle brein gebruik wat hulle free gekry het nie. Hulle sal nie rus voor alles vernietig is nie. Alles word afgebrand en hulle kom niks oor nie. Branstigting is ook free.

AL ·

Die studente word gepaai en geredeneer mee en in hul eise voldoen en dit maak dat hul nie vir hul kriminele dade boet nie. Gemeenskappe is bederf deur gratis als, daarom is dit vir hul baie maklik om af te breek en te brand as om ander oplossings te soek. Ons belastingbetalers moet ook optogte hou van #Belasting moet val dan wonder ek waar gaan die drommels en die regering sit.

Jean ·

Dis nou hoe mooi die studente na die MINISTER luister wat vra dat hulle asseblief nie verder skade sal aanrig wat die toekoms van die jeug direk beinvloed nie … Breek, Brand, Klipgooi is ‘n kultuur wat hulle by hulle ouers aangeleer het en dink nogsteeds hulle moet dit doen om hulle sin te kry, as hulle eers opgesweep is BRAND en BREEK hulle alles af.

snoefie ·

ek hou voet by stuk. lopende water, elektrisiteit, balsteenhuise, tersiëre- opleiding, swart suv’s , seiljagte en diamant- oorbelle is luukses. jy ksn ditnet hê as jy dit kan bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.