Veiligheid by parlement opgeskerp ná selfdood

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Die parlement het die naam van die amptenaar wat homself Vrydag in sy kantoor op die terrein doodgeskiet het, bekend gemaak.

Molopo Mothapo, woordvoerder van die parlement, het die oorledene as Lennox Garane (57) geïdentifiseer. Garane was ʼn afdelingsbestuurder vir beleid in die parlement se afdeling vir internasionale betrekkinge en protokol. Hy is op 1 Oktober 2013 op ʼn kontrak van vyf jaar aangestel.

Volgens Mothapo het die bestuur van die parlement Garane se familie besoek en word daar bystand en berading aan hulle verskaf. Personeellede by die parlement wat deur Garane se dood geraak is, het ook Maandag begin berading ontvang.

Die toneel by die parlement in Kaapstad. Foto: ANA

Maroela Media het vroeër berig ʼn senior amptenaar het Vrydag homself in ʼn gebou op die parlementêre perseel om die lewe gebring. Dit is nie seker wanneer Garane die vuurwapen by die gebou ingesmokkel het nie. Die gebou is aan streng veiligheidsmaatreëls onderworpe, maar omdat Garane baie senior veiligheidsklaring gehad het, is dit moontlik dat hy nie persoonlik ondersoek is nie.

Die polisie en staatsveiligheidsagentskap se ondersoeke na die voorval duur intussen voort terwyl veiligheid by al die ingange en toegangspunte by die parlement opgeskerp is vir die veiligheid van parlementslede sowel as lede van die publiek.

Mothapo het intussen gesê die parlement het met kommer kennis geneem van die bespiegelende en skadelike gevolgtrekkings wat gemaak word oor die beweerde faktore wat aanleiding tot Garane se dood gegee het.

“Die parlement doen ʼn beroep op almal om ruimte te verskaf vir die ondersoek om afgehandel te word en dade en uitsprake te vermy wat die familie leed kan aandoen en die ondersoek na die tragedie in gevaar kan stel.”

Die oorledene se kollegas het ná die voorval gesê hy het die afgelope tyd gekla oor erge werksdruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Daan Erasmus ·

Hoekom moet mense in die Parlement se veiligheid belangriker wees as my en jou veiligheid. Daar is klaar te veel wagte, sekuriteit wagte. Wit hemde en nog wat.

wielie ·

Hy het gekla van erge werksdruk. Wie is sy seniors ?? Hoor hulle nie, help hulle nie? Nou is hy dood? Op wie se gewete is dit ????

Meli ·

Seker op die senior se gewete… nou sal dit vir altyd op die senior se gewete val want nou moet die senior seker plan maak om alternatief werk klaar te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.