Veiligheid opgeskerp na doodsdreigemente by Sassa

Argieffoto

Argieffoto

Miljoene rande is spandeer om veiligheid op te skerp nadat bestuurspersoneel van die maatskaplike sekerheidsagentskap (Sassa) glo geïntimideer is en doodsdreigemente ontvang het.

Lumka Oliphant, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling, het dit bekend gemaak na ʼn berig in Sunday Times dat R10 miljoen spandeer is op lyfwagte vir bestuurspersoneel. Die berig het vrae gevra rondom die toekenning van die kontrakte.

“Die minister en die uitvoerende hoof se aggressiewe houding teenoor bedrog en korrupsie het gelei tot verskeie voorvalle van intimidasie, doodsdreigemente en dreigemente teen hulle, hulle families en ander personeel,” het Oliphant gesê.

Sunday Times berig dat R2,9 miljoen op “naby beskermingsdienste” spandeer is vir Virginia Petersen, uitvoerende hoof van Sassa, en Renay Ogle, bestuurder by Sassa. In een geval is ʼn persoon in hegtenis geneem nadat Petersen doodsdreigemente ontvang het. Oliphant sê Petersen fokus daarop om korrupsie in die agentskap uit te roei en dat daar reeds meer as 7 000 bedrogsake ontbloot is.

Volgens Sunday Times is ʼn verdere R1,1 miljoen spandeer op “naby beskermingsdienste” vir Oliphant en haar gesin.
Volgens die berig is die kontrakte vir die beskermingsdienste aan Vuco Security Solutions in Durban toegeken. Die kontrakte is glo toegeken sonder dat die behoorlike prosesse gevolg is. Oliphant sê Sassa sal die bewerings ondersoek.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.