Veiligheid vir studente, personeel geëis sodat universiteite kan heropen

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Studentebetogings (Oktober 2015) (Foto: verskeie bronne, sosiale media)

Die Demokratiese Alliansie het Sondag universiteitsbestuur, die departement van hoër onderwys en opleiding en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gemaan om saam te werk om studente en personeellede se veiligheid te verseker sodat kampusse hierdie week weer kan oopmaak.

Dit volg ná berigte dat talle kampusse gesluit sal bly, waaronder die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en Universiteit van Kaapstad (UK).

“Volgens ʼn kennisgewing van Wits, is hul besluit gebaseer op werklike dreigemente teen studente en personeel,” het Belinda Bozzoli gesê.

Maroela Media het vroeër berig drie petrolbomme is op die kampus gevind. “Dit is ʼn duidelike bewys dat sommige studente universiteitseiendom wil vernietig. Volgens hierdie brief kom die dreigemente van ʼn klein groepie individue wat doelbewus kampusse wil sluit, deur van intimidasie en geweld gebruik te maak,” het Bozzoli bygevoeg.

“Die situasie kan nie voortduur nie. Die meerderheid studente wil leer en vir die eksamen voorberei. Hulle regte word ondermyn deur die optrede van ʼn paar individue wat nie omgee vir die wet of die regte van ander nie,” het sy gesê. “Die paar studente wat steeds die wet oortree deur intimidasie, ander se lewens te bedreig en publieke en privaat eiendom te verwoes, moet strafregtelik vervolg word. Hul gedrag is ʼn strafbare oortreding en hulle moet in hegtenis geneem word en vervolg word.”

Bozzoli het gesê dit is baie belangrik om die universiteite se deure oop te hou en die veiligheid van studente en personeel op kampusse te verseker. “Die DA deel die woede en frustrasie wat so baie jongmense vandag in Suid-Afrika beleef – wat nie betrokke is by die geweld op kampusse nie. Met toenemende werkloosheid, minder geleenthede en absoluut onvoldoende finansiering, verloor talle jongmense hoop. Dit moet dringend aangespreek word in die kort- en langtermyn,” het Bozzoli bygevoeg.

Sy het gesê die DA en sy studenteorganisasie DASO, het dit duidelik gemaak dat geen student opleiding geweier word net omdat hy arm is nie. “Hoër onderwys moet ʼn topprioriteit wees vir die regering om seker te maak dat dit gebeur. Dit is die kragtigste wapen om armoede en ongelykheid mee aan te spreek en daar moet dienooreenkomstig daarvoor begroot word. Die DA sal hierdie stryd voortsit, met elke meganisme wat tot sy beskikking is. Om kampusse te sluit, is egter nie die oplossing nie, en dit dra net by tot die krisis wat deur ons land in die gesig gestaar word. Dit is nou tyd om die kampusse oop te maak sodat die stryd vir gratis hoër onderrig nie die mense seermaak wat wil help nie.”

Die ANC-jeugliga het Sondag ook “die sterkste waarskuwing” aan alle studente gestuur teen brandstigting van universiteitseiendom. Die ANC-jeugliga het die verklaring uitgestuur ná sy gereelde nasionale uitvoerende komitee in Pretoria vergader het. “Die NUK wil ʼn waarskuwing uitstuur teen hierdie celebrity wannabes wat hierdie edele saak vir hul eie selfsugtige belang wil misbruik. Die NUK benadruk sy steun vir gratis onderwys en doen ʼn beroep op die sogenaamde fooie-kommissie om sy ondersoek te bespoedig.”

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anjes ·

Die meeste studente wil in vrede kan studeer en die personeel wil in vrede kan werk. Hou net die terroriste uit deur orde teen alle koste te handhaaf.

abba ·

Ek hoop die universiteite ht die rugraat om die gemors te stop.

Wonder net ·

Ek het nog altyd gedink dis n voorreg om te kan studeer, nie besef dit moet op n skinkbord en ‘n goue lepeltjie gegee word nie. Daars baie studente wat hulle vingers stompies werk in ‘n kroeg of restaurant om hul studie-gelde te kan betaal. Hoekom kan die wat so toi-toi nie ook ‘n werkie kry nie? Ek skaam my vir die land!

Jean ·

Wel as die MEERDERHEID studente dan wil studeer, laat hulle dan OPSTAAN teen die amokmakers, swart en wit en bruin en geel. Hoekom moet ‘n handjievol protesteerders altyd die ander wat wil leer gevange hou? Laat die polisie hulle werk doen en die hardwerkende studente beskerm, en as hulle nie genoeg is nie, ontplooi die weermag. Hou die amokmakers weg van die universiteite en van die studente wat wil studeer en eksamen skryf.

Basson ·

Want diesulkes sal ‘verhoor’ en geskors word. (En nie die aanvanklike moeilikheidmakers)

Vra my – ek het al gesien hoe werk instellings se dubbele standarde, die sagte teikens word met die volle boek gegooi, terwyl terroriste wegkom met moord as’t ware.

Anoniem ·

Jean, die studente het spesifieke instruksies ontvang hoe om op te tree as die klasse binnegedring word. Persoonlik dink ek dis om die geweld te probeer beperk. Het jy geweet ‘n gewone student mag nie wapens soos messe en vuurwapens saamneem kampus toe nie?

Jean ·

Anoniem, ja ek het geweet, en nerens het ek gese hulle moet die ander studente doodsteek nie. Wel lyk asof hierdie instruksies vreeslik goed werk as studente nou by sekuriteitswagte moet skuiling soek. Erken nou maar niks werk nie, die amokmakers hou die hele universiteit met sy studente en dosente gevange, letterlik en figuurlik.

Johann ·

Reg……Voorreg……reg…..voorrreg? Maar sien; in aggenome die voorbeeld wat NUMBA WHONE en sy handpoppe met lof voorhou as die norm; gaan dieselfde domastrante arrogansie herhaaldelik kop uitsteek. Gaan lees asb die berig rakende die sg “leiers” van hierdie anargiste in Sondag se Rapport. Mini Zumpies en kie uitgeknip!

Anoniem ·

Daar is tans by UP ‘n groep amokmakers voor die Aula en die biblioteek. My kind kan nie verby die groep by die bib kom om huis toe te gaan nie, en staan by ‘n groep sekuriteitswagte vir veiligheidsonthalwe. Hy het laat weet daar is so pas ‘n gepantserde voertuig verby op pad na die amokmakers. Aan die een kant wens ek die amokmakers word met rubberkoeëls geskiet, aan die ander kant gee ek raad per whatsapp: “Val plat as iemand begin skiet”…… Dit voel so onwerklik. Het juis vanoggend baie mooi vir die Here gevra om hom vandag op te pas by die kampus.

Katrien ·

Wat van die gewone middelklas student wie se ouers met lenings by banke en bloedgeld betaal vir hulle kinders se studies.daar is nie beursgewers wat maar net volgende jaar weer gaan betaal nie.nie een van hierdie studente kan bekostig dat hulle reg tot toegang vir betaalde studie geweier word nie.die meeste middelklas ouer kan net soveel studiejare per kind nouliks bekostig.

Kobus ·

My liggaam voel nou al skoon naar met elke studente se feesmustfall berig wat verskyn, dis oral, oorheers als. Ek sien nuwer berigte oral, ek lees daardie nie, want ek voel al reeds te dik. Die weerstand bou in lyf my op soos iemand wat te veel kos ingeprop is, dit voel of ek ‘n Luke Watson wil gooi.

Betaler ·

Al wat gaan werk is as die studente wat tans volle fooie betaal, dreig om nie meer te betaal nie, dalk sal die Universiteit se bestuur dan aandag aan hulle ook gee, want tans word die betogers gepamperlang oor geld. Kom ons kyk as die ander kant hulle geld onttrek of hulle ook aandag gaan kry, want dan sal die bestuur begin bekommerd raak, dalk kry hulle nie hulle Des bonus nie, en dalk teen Januarie ook nie meer ‘n salaris nie. Geld is al wat praat, laat praat julle geld.

Andries ·

Die betogers weet hulle gaan nie die eksamens deurkom nie. So kom ons betoog en ry die fees must fall trein.

ada ·

Price het mos betogings bu UCT aangepraat en gese hy is trots op sy seun wat daaraan deelneem. En nou? Wat is jou antwoord nou Price?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.