Veiligheidsbeampte van Lily-myn neem eie lewe

'n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

‘n Lugfoto van die ineenstorting. Foto: JacarandaFM via Mpumalanga EMS

Die polisie het Woensdag bevestig dat die veiligheidsbeampte van die Lily-myn naby Barberton in Mpumalanga selfmoord gepleeg het.

Sers. Gerald Sedibe, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê Nico Cronje (52) het Maandag sy eie lewe geneem. Volgens Sedibe was Cronje die veiligheidsbeampte van die Lily-myn. Hy het gesê die motief vir die voorval is nie bekend nie en dit sal ondersoek word.

“Die boer op die plaas waar Cronje ʼn huis gehuur het, het die polisie Maandag ontbied nadat hy bloed onder die deur sien uitloop het. Toe die polisie opdaag, het hulle die deur oopgebreek en Cronje op die vloer gekry met ʼn jaggeweer langs hom. ʼn Geregtelike doodsondersoek is geopen,” het Sedibe gesê.

Volgens onbevestigde berigte het Cronje slegs kontrakwerk vir Vantage Goldfields gedoen en was hy nie ‘n voltydse werknemer nie. Amcu het Woensdag gesê dat Cronje die veiligheidsbeampte van die Barbrook-mynkompleks was, waarvan die Lily-myn deel vorm. Die polisie het egter volgehou dat Cronje ‘n veiligheidsbeampte by die Lily-myn was.

Reddingsaksies gaan die afgelope 13 dae by die myn voort nadat ʼn gedeelte van die myn ineengestort het en drie mynwerkers sedertdien ondergronds vasgekeer is. Reddingsaksies moes oor die naweek heeltemal gestaak word ná nog twee ineenstortings in die sinkgat waar die mynwerkers vasgekeer is.

Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, het Saterdag ʼn beroep op mense gedoen om niemand te blameer nie en eerder op die reddingspoging te fokus. “Die ondersoek na die oorsaak van die ramp sal hanteer word wanneer ons ons hoofdoelwit bereik het – om die mense uit hierdie ramp te red,” het hy gesê.

Vantage Goldfields het Dinsdag gesê geen moeite sal ontsien word om die drie mynwerkers, lewend of dood, te red nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Chris W ·

Ai dis tragies om van so’ iets te lees.Maar dit wys net onder watse ongelooflike druk mense op myne werksaam is in ons land.Ek het self elke dag as ek my vrou groet om te gaan werk gevoel ek gaan werk toe met ‘n valbyl bokant my kop!Tot eendag toe bedank ek net en vat my pensioen geldjie en gaan leef daarmee ver van ‘n myn af!
My innige simpatie met die familie van Mnr .Cronje.

Marinda Duvenhage ·

My hart gaan uit na hierdie mense en hulle families.

Nici Beer ·

Ai ai ai. Dis so tragies. Sterkte vir hierdie man se familie. Ook vir elke persoon wat betrokke is in die reddingspoging.

François ·

Die SHERQ Beampte in enige situasie, saam met die 16.2, vat die ‘hammering’ rakende die veiligheid van almal. Maar as jou papierwerk op datum is, hoef jy niks te vrees nie. My simpatie met die oorlede Mnr Cronje se agtergeblewenis.

lititia Kruger ·

Ek is baie jammer. Hy was nie die Sherq beampte maar sekuriteits beampte. Dra geen wetlike aanstelling. En volgende 16.2 ? Die mynbestuurder 3.1 (a )dra grootste verantwoordelikheid.
Ohs Act 16.2 dra geen krag onder mynwet

CvB ·

Dit is baie hartseer wat hier by ons gebeur het. Ek hoop en bid die ander skofbase van die ander myne hier,leer daar uit om nie mense te dwing om onveilig te werk nie. Luister wat die myners se voor julle tantrums gooi.

Poenie ·

Ja dit is feite. Hier waar ek is kla ons daaroor. En dan word daar gese jy moet nie onveilige werk dien nie. En ons sal jou nie toelaat om onveilig te werk nie. En more is dit n vergete storie en dan kom die opdragte. Sulke onveilige dinge wat gedoen moet word en hul weet dit maar kyk n ander pad. Jy wat wil reg en veilig werk is more die man wat die werk terug hou en nie wil werk nie

SNEL ·

Ai, my hart is seer vir die Cronje man, so onnodig.
Hierdie is nie n veiligheidsbeamte se skuld nie, glo ek. Ek dink alles wat daar gebeur en die druk was net te veel vir hom. Ek weet seker nie veel van mynbou af nie, maar n veiligheidsbeamte het seker nie met die ontwerp en oophou of “support” van tonnels onder die grond te doen nie. Dis daai manne wat hul werk beter moes doen. n Veiligheidsbeamte het nie eers n ingenieurs graad of iets nie, hoe sal hy nou weet van drukking en om gate oop te hou. Kyk n veiligheidsbeampte nie net vir ander veiligheid in en om die myn nie, maar die produksie en oophou van tonnels en gate klink mos na n man met papiere se werk.

Gesiggie ·

Nog n Tragedie.. nog n lewe…Ek voel so jammer vir Mnr Cronje se Familie… die druk is so erg by Lily Myn, en almal probeer hul beste om die 3 mense daar uit te kry. Jammer dat so iets nou ook moes gebeur. Mag al die Tragedie gou eindig… sodat almal weer normaal kan aangaan.

tamboti ·

Maroela Media, nuusberigte berig nou dat Cronje nie vir Lily myn gewerk het nie.

Rienie ·

Wat is die ware weergawe….News 24 se dat mnr Cronje in sy voertuig geskiet is en Maroela Media se dis in sy huis Hoe dit ookal sy…Innige simpatie aan mnr Cronje se naasbestaandes

Elize ·

My hart breek en met trane in my oe sit en lees ek hierdie hartveskerende nuus. Daar is geliefdes wat elke minuut sit en wag vir enige nuus en hoe verder die tyd loop begin hul al hoe meer vrede maak met die gedagte dat hul nooit weer hul geliefdes gaan sien nie. Hoe wreed hierdie rou tydperk terwyl jy dink aan die mensies wat toegeval het en al die vrae , hoeveel kos het hul by hul gehad of water is daar suurstof waar hul is het hul seergekry? Die land se gebede pleit ons dat engele hul sal bewaak en vra onse Heer om die geliefdes te ondersteun in Jesus naam Amen

Johan ·

Daar word hier gepraat oor aanspreeklikheid en skofbase en mynkapteine wat opdragte gee om onveilig te werk. Daar word gepraat van onveilig werk ensovoorts. Ek kan nie insien wat dit met die voorval te doen het nie aangesien die container waarin die drie werkers was, n kantoor ,bogrond gestaan het en toe in n sinkgat verdwyn het. Sinkgate vorm gewoonlik n dolomietiese grond wat hierdie suiwer n geologiese problem maak.Ja dit word n beroepsveiligheids problem maar het nie agv onvoldoende veiligheidsstelsels of risiko bepalings ontstaan nie. Daar val oral oor die land gereeld sinkgate in, party groot, party klein. Pretoria in die waterkloof en voortrekkerhoogte area is vrot van sulke versakkings, so wie gaan ons daar blameer?

Karma ·

@Johan, ja, alte dikwels verloor mense perspektief en die ware storie en feite met die tyd saam. Eers toe jy nou noem dat die skeephouers in ‘n sinkgat weg is, het ek weer gedink. Dit was ‘n “Act of God”, ‘n ramp … Maar ek bly tog so bietjie wonder of mnr. Cronje nie dalk doodsdreigemente van die gemeenskap of ander werkers of hul families gekry het nie? Jy weet, mens verloor so maklik visie en normale denke wanneer ‘n geliefde sterf (hierdie mense moet vir seker al dood wees teen hierdie tyd!). Dalk was die feit dat hy sekuriteits- of veiligheidsbeampte op die gronde was ‘n kulminasie van faktore – miskien het hy selfs die ramp aanskou? Dalk was dit PTSS? Wie weet! Simpatie aan sy agtergeblewe familie en vriende.

Daleen ·

Hy het dalk sy eie (ander) redes gehad om so besluit te neem. Dit het heel moontlik nie eers met die myn situasie te make nie.

My ware simpatie met Mnr Cronje se mense. Mag GOD vrede gee vir julle gemoedere. Wees sterk en staan nou saam.

Elbie ·

Absolute tragedie! My hart bloei vir al hierdie mense betrokke! Net God kan oorneem van hieraf.. Xx

Johan Willem schoultz ·

My hart bloei vir die Cronje gesin. Ek dink dit is uiters laag, gemeen en ongevoelig van die SAPD om in n koerant te berig na die selfmoord van Frans wat lees “he took the easy way out”. Die minste wat die minister van Polisie kan doen is om skriftelike verskoning te maak aan die Cronje familie vir hul ongevraagde en laakbare verklaring….dis maklik om hom nou te beswadder, hy is mos dood en kan homself nie verdedig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.