Veiligheidsbeamptes met aanvalsgewere geskiet

Rina Pringle. Foto: Via Facebook

Rina Pringle. Foto: Via Facebook

Rina Pringle (57), ʼn veiligheidsbeampte van Delmas in Mpumalanga, en haar kollega, Joseph Coombe, se aanvallers het met AK47-aanvalsgewere op hulle losgebrand.

Kol. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media bevestig die polisie ondersoek ʼn saak van moord, poging tot moord en poging tot roof nadat Pringle en Coombe Dinsdag in die plaasdorpie Sundra buite Delmas tydens ʼn gewapende rooftogpoging geskiet is. Pringle is dood in die aanval en Coombe is ernstig beseer.

“Die beamptes van Maximum Sekuriteit was omstreeks 10:00 in die omgewing om geld by ʼn vulstasie te gaan oplaai. Hulle het die vulstasie in hul gemerkte Hilux-bakkie verlaat,” het Hlathi gesê.

Hlathi het gesê Coombe, wat bestuur het, het ʼn verdagte motor naby die ingang van Tweede Laan, nie ver van die vulstasie af nie, opgemerk. “Hy het ook opgemerk dat ʼn wit Volvo agter hom aanry en het onraad vermoed.”

Die bestuurder van die Volvo het skielik verby Coombe gejaag en die bakkie met die voertuig geblok. “Drie mans het met AK47-aansvalsgewere op die slagoffers losgebrand en hulle gewond.”

Maroela Media het vroeër berig Coombe het na bewering teruggeskiet en twee van die aanvallers gewond. Dit kon egter nog nie bevestig word nie. Die rowers het met leë hande op vlug geslaan en is steeds soek.

Pringle en Coombe is na die Life The Glenwood-hospitaal in Benoni gehaas, waar Pringle aan haar beserings beswyk het.

Die bestuur van Maximum Sekuriteit het op hul Facebook-blad gesê Coombe is steeds in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid in ʼn ernstige maar stabiele toestand.

Die maatskappy het die gemeenskap, sy kliënte, kollegas en vriende bedank vir almal se hulp en ondersteuning die afgelope tyd.

“Ons harte is baie seer oor die verlies van Rina en ons innige meegevoel gaan aan haar familie. Sy was lojaal en passievol oor haar werk.”

Pringle se roudiens is Maandag om 11:00 in die Lewende Woord Kerk op die hoek van Van Riebeeck- en Sesdelaan in Delmas.

Lt.genl. Mondli Zuma, die provinsiale polisiekommissaris, het die voorval veroordeel en namens die polisie sy innige meegevoel met Pringle se familie, vriende en kollegas betuig. Hy het ook vir Coombe ʼn spoedige herstel toegewens.

Zuma het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie van enige inligting te voorsien wat hulle in hul ondersoek kan bystaan en tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wim ·

Liefste Baba en gesin. Ons is baie jammer om te hoor van die tragedie wat julle getref het. Ons ken almal vir Joseph as n baie sterk mens en weet dat hy hierdeur sal kom. Jy Joseph en julle kinders asook die Pringle familie bly in ons gebede. Liefde Wim Loraine en gesin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.