Veiligheidsbeamptes skiet ‘huisrower’ dood

Die veiligheidsbeamptes se motor op die toneel. (Foto: Facebook)

Beamptes van ʼn veiligheidsmaatskappy in KwaZulu-Natal het Woensdag in die vroeë oggendure ʼn vermeende huisrower doodgeskiet nadat hy en sy makkers glo op die veiligheidswagte losgebrand het.

Anthony Lokker, besturende direkteur van ET Rapid Response, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Lokker het aanvallers Dinsdagaand ʼn slagoffer in sy huis in die omgewing van Adam’s Mission wes van Amanzimtoti oorval en aangehou. Die slagoffer is later na ʼn OTM geneem om kontant uit sy bankrekening te onttrek waarna die verdagtes met die kontant en die slagoffer se motor op die vlug geslaan het.

Die veiligheidsmaatskappy ET Rapid Response se hulp is ingeroep om te help soek na die aanvallers en die gesteelde motor. Beamptes van dié maatskappy is toe na bekende areas in die omgewing van KwaMakutha waar motors gereeld van hul onderdele gestroop word.

Volgens Lokker was dit nie lank voordat die beamptes die aanvallers én die gesteelde motor in Pistol Mpanzaweg opgemerk het nie. Die aanvallers het egter weggejaag en op die beamptes losgebrand. Die beamptes het die aanvallers in die gesteelde motor agternagesit en teruggeskiet wat tot gevolg gehad het dat die aanvallers die gesteelde voertuig gestamp het.

Die gesteelde motor op die toneel. (Foto: Facebook)

Lokker sê dat die aanvallers al skietende te voet op die vlug geslaan het. Die beamptes het weer eens teruggeskiet en een van die aanvallers is in die proses doodgeskiet. “Die ander aanvallers het die donker in verdwyn,” het Lokker gesê.

Geen beamptes is in die voorval gewond nie hoewel twee skote van ‘n vuurwapen die beamptes se voertuig getref het.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Gwala is die oorledene 35 jaar oud.

ʼn Saak van huisroof is by die KwaMakhutha-polisiestasie aanhangig gemaak. ’n Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois ·

Dit is snaags die wag is nie in hegtenis geneem nie want vandag is dit mos die diewe wat tussen 7 uur saans en 5 uur soggens mag rondbeweeg

Michael 1 ·

Ek verstaan dan nie,me Heyns stuur dan asb jou weergawe van reëls en regulasie vir komentaar en ek sal my bes doen om daarby te hou.

Amatambo ·

Sit nou en terugdink aan ‘n geval hier in ons omgewing sowat ‘n jaar gelede – ‘n bejaarde egpaar is een nag met die teenwoordigheid van ‘n ongewensde “besoeker” vereer. Genoemde “besoeker” het die tannie teen haar kop begin aanrand watdie oom tyd gegee het om sy vuurwapen oor te haal en die “besoeker” daar en dan plat te trek. Uiteinde van hierdie voorval? Die oom sit vandag agter tralies op ‘n aanklag van moord…

Michael 1 ·

Die wet sê duidelik jy mag iemand skiet waneer jou lewe of n ander persoon in onmidelike gevaar is ,ek ken nie die feite nie maar tree op soos die wet bepaal en jy behoort reg te wees.Kennis is koning in n piesang republiek

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.