Veiligheidsmaatskappy neem glo minderjariges in diens

PSiRA

The Association of Private Security Owners of South Africa (Tapsosa) doen ’n beroep op die Reguleringsowerheid vir die private veiligheidsbedryf (Psira) om ’n veiligheidsmaatskappy in Mpumalanga se deure te sluit, omdat hulle glo minderjariges in diens neem.

Tapsosa het sy kommer uitgespreek oor die Sniper-veiligheidsdienste wat onopgeleide en ongeregistreerde 16-jariges en 17-jariges aanstel. Walter Stander, die eienaar van die firma, is klaarblyklik in 1999 skuldig bevind aan die moord op sy vrou.

Moses Malada, Tapsosa se sekretaris-generaal, het gesê die wet lui duidelik dat persone ouer as 18-jaar oud as veiligheidsbeamptes by Psira geregistreer kan word.

“Dié veiligheidsmaatskappy trek voordeel daaruit om minderjariges onder die nasionale minimum loon te vergoed. Sommige van die werknemers het bevestig hulle word tussen R2 500 en R3 000 per maand betaal. Die nasionale minimum loon vir veiligheidsbeamptes is R3 643,” sê Malada.

Malada meen Psira moet ook ander bewerings van onwettige gedrag ondersoek soos veiligheidsbeamptes wat nie behoorlik opgelei word nie.

Tapsosa versoek Psira om die departement van arbeid te betrek, sodat hulle ook by dié maatskappy kan ondersoek instel.

Linda Mbana, hoof van wetstoepassing van Psira, sê die maatskappy kan steeds geakkrediteer word,  aangesien Stander se skuldigbevinding meer as tien jaar gelede was.

Psira het ook bevestig dat Stander wel aan hulle geopenbaar het dat hy skuldig bevind en gevonnis is vir moord toe hy aansoek gedoen het vir die maatskappy se akkreditasie. “’n Persoon kan aansoek doen vir akkreditasie indien die persoon kan bewys die skuldigbevinding en vonnisoplegging is tien jaar voor die aansoek voltooi,” sê Mbana.

Maroela Media het met Stander in kontak probeer kom, maar kon geen kontakbesonderhede vir hom óf sy maatskappy opspoor nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Luister ·

Moor hier en moor daar, net ‘n paar jaar en siedaar! Jy kan aangaan met jou lewe. Dit klink makliker as om op ‘n swartlys te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.