
’n 32-jarige sekuriteitswag is Dinsdag per helikopter na die hospitaal gehaas nadat hy glo buite ’n skool in Durban deur ’n groep mans geskiet is (Foto: Verskaf)
’n 32-jarige sekuriteitswag is Dinsdag per helikopter na die hospitaal gehaas nadat hy glo buite ’n skool in Durban deur ’n groep mans geskiet is.
Dit volg skaars ʼn week nadat ʼn polisieman voor ʼn skool in Umbilo doodgeskiet is toe hy sy dogter by die skool afgelaai het.
Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, is die wag om 07:20 buite ’n skool in Hammarsdale, in die weste van Durban, deur ’n groep mans genader. Die wag was by die skool aan diens.
“Die wag is twee keer in albei bene geskiet,” bevestig Herbst.
“Volgens die wag het die aanvallers ná die skietery op die vlug geslaan.”
Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die gewonde wag aangetref. “Paramedici het die wag op die toneel gestabiliseer voordat hy na ’n hospitaal geneem is vir verdere mediese behandeling.”
Dit is die soveelste aanval op ’n veiligheidswag wat die afgelope maand in KwaZulu-Natal aangemeld is.
Maroela Media het die afgelope weke oor drie ander aanvalle op veiligheidswagte berig. Dit is benewens die moord op ao. Michael Jameson (52), ʼn polisiebeampte wat verlede week buite sy dogter se skool in Umbilo doodgeskiet is.
In die jongste voorval was ʼn 40-jarige veiligheidswag Donderdag besig om in ʼn minibustaxi in Bester in KwaMashu te klim, toe ʼn man hom genader en minstens tien keer geskiet het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
10 Kommentare
Dit is die nuwe Suid Afrika. Skiet soos hul wil op wie hul wil
KZN blyk ‘n oorlogsone te word. Die wag is twee keer in albei bene geskiet. Vier skote! Of is dit twee? Nieteenstaande, dit gaan erg in SA, maar dit is asof in KZN dit werklik erg is. Partykeer klink dit asof die Wes-Kaap die brandpunt is. Wat ‘n land om in te woon.
Duidelik is die kriminele in beheer, geen polisieman of sekuriteits personeel is meer veilig nie.
Is dit nie dalk n geval dat mededingende sekuriteitsmaatskappye intimidasie toepas nie want hoekom n veiligheidswag net skiet? Suid Afrika is op die oomblik n misdadiger se droom en Cele slaap voort en mors belastingbetaler se geld om by selektiewe tonele sy bakkies te gaan wys en leë beloftes te maak.
Die hele land is ‘n hool . Die polisie is te sleg om misdaadvoorkoming te doen . Die gemeenskap moet dit teen betaling doen en dan word diegene wat bereid is om die werk te doen geteiken . Dis die waarheid .