Veiligheidswag by OTM doodgeskiet; reuse-beloning uitgeloof

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn Veiligheidsmaatskappy bied ʼn reuse-beloning aan nadat een van sy werknemers tydens ʼn rooftog by ʼn OTM in Pretoria doodgeskiet is.

Flavia de Cillia, woordvoerder van SBV Services, het aan Maroela Media gesê die maatskappy het ’n beloning van R500 000 uitgeloof. Volgens De Cillia het die voorval Dinsdagmiddag by ʼn OTM in Ga-Rankuwa plaasgevind.

“Vier SBV-beamptes is deur ’n onbekende aantal gewapende mans aangeval terwyl hulle besig was om die OTM te diens. Een van ons werknemers is tydens die voorval doodgeskiet. Die verdagtes het met ʼn onbekende hoeveelheid kontant op die vlug geslaan,” het sy gesê.

De Cillia wou nie in hierdie stadium meer inligting bekendmaak nie aangesien die polisie die saak ondersoek.

Mark Barrett, besturende direkteur van SBV Services, het in ʼn verklaring sy medelye met die oorledene se familie, kollegas en vriende uitgespreek. “Ons werk saam met die owerhede en sal alles in ons vermoë doen om die verdagtes op te spoor. Die lewensverlies sal nie geduld word nie en ons sal saamstaan en nie opgee nie totdat die oortreders aan die pen ry.”

Barrett het gesê die beloning is uitgeloof vir enige inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei. “Lede van die publiek wat enige inligting oor die rooftog het, word aangemoedig om met SBV se risiko-en-bestuurspan in kontak te kom via die waarskuwingsblitslyn by 083 408 7029,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.