Veiligheidswag geskiet toe hy rowers wou fnuik

Argieffoto

Die polisie in die Oos-Kaap ondersoek ʼn saak van poging tot moord toe gewapende mans Maandagoggend vroeg ʼn Cash and Carry-winkel in Port Elizabeth wou beroof.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Fidelity-veiligheidswagte het omstreeks 05:00 by die perseel in Algoapark aangekom toe hulle die gewapende rowers betrap het.

“Een van die veiligheidswagte het uit hul voertuig geklim en die winkel betree. Net toe hy weer na die voertuig wou terugkeer, het ʼn gewapende rower hom gekonfronteer,” het sy gesê. “Die rower het op die veiligheidswag geskiet, en hy het teruggeskiet. ʼn Groep van meer as vyf rowers en veiligheidswagte het daarna op mekaar geskiet. Die rowers het te voet gevlug.”

Een van die veiligheidswagte is beseer. Hy is na ʼn hospitaal geneem.

Die polisie vermoed een van die verdagtes is moontlik ook beseer.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.