Veiligheidswag in hof oor skietery tydens afsondering

Argieffoto

Siphiwe George Ndlovu (45), ʼn veiligheidswag van ʼn privaat maatskappy, het Dinsdag in die Boksburg-streekhof verskyn ná ʼn man Sondag, glo tydens die toepassing van afsonderingsreëls, doodgeskiet is.

Maroela Media het vroeër berig Ndlovu en ’n metropolisiebeampte is in hegtenis geneem ná ʼn 41-jarige man van Vosloorus in Ekurhuleni, Gauteng, in sy erf doodgeskiet is.

Sontaga Seisa, waarnemende woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het gesê beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie het Sondag die gebied gepatrolleer toe hulle glo opgemerk het dat mense by ʼn taverne drink. Die beamptes was op patrollie ten einde te verseker dat daar voldoen word aan die regulasies van die tydperk van 21 dae van afsondering. Geen plekke mag in dié tyd drank verkoop nie.

“Die beamptes wou glo die oortreders in hegtenis neem toe hulle na bewering deur lede van die gemeenskap aangeval is. Die beamptes het rubberkoeëls afgevuur.”

Die oorledene was vermoedelik een van die mans wat in die taverne was. “Daar word verder beweer die oorledene is tot by sy huis se stoep gevolg waar hy doodgeskiet is.”

Vier kinders, onderskeidelik vyf en ses jaar oud en ʼn 11-jarige tweeling, is tydens die voorval gewond en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling.

Aanklagte teen die 34-jarige metropolisiebeampte is intussen teruggetrek hangende verdere ondersoek.

“Ndlovu staan tereg op aanklag van moord, vier aanklagte van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, en die besit van onwettige ammunisie,” het Seisa gesê. “Die saak is tot 8 April uitgestel vir ʼn formele aansoek om borgtog. Hy bly in aanhouding.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.