Veiligheidswag in Kaapstad-sentrum geskiet

Canal Walk-winkelsentrum Foto: www.milnerton.info

Canal Walk-winkelsentrum Foto: www.milnerton.info

ʼn Veiligheidswag is tydens ʼn gewapende rooftog by ʼn winkelsentrum in Milnerton in Kaapstad geskiet.

“Die 36-jarige man is beseer toe sy voertuig teen die ses verdagtes se voertuig gebots het,” het kol. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, Donderdag gesê. “Die mans het Woensdagaand op die sentrum toegeslaan.”

Die veiligheidswag word in die hospitaal behandel, maar die polisie kon nie die omvang van sy beserings bevestig nie. Hulle kon ook nie die naam van die winkel of die winkelsentrum bevestig nie. Die Cape Argus het egter Donderdag berig die mans het die iStore in die Canal Walk-winkelsentrum beroof. Die ses gewapende mans het glo selfone uit die winkel gesteel en toe in ʼn wit Honda Ballade gevlug.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Verskeie ander selfoonwinkels, hoofsaaklik in Gauteng, is die afgelope paar maande beroof. Die Altech Autopage-winkel by die Glen-winkelsentrum in Oakdene is in September beroof. Drie gewapende rowers het 15 selfone ter waarde van R34 000 gesteel.

Die Samsung, iStore en Vodacom-winkels in dieselfde winkelsentrum is sedert November verlede jaar beroof.

Lt.genl. Lesetja Mothiba, Gautengse polisiekommissaris, het op 9 September gesê daar was 11 rooftogte by verskillende winkelsentrums sedert Augustus 2013. Die rowers het telkens hulself as klante voorgedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.