Veiligheidswag in motor doodgeskiet

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

ʼn Veiligheidsbeampte (29) is Maandagaand by ʼn winkelsentrum in Leondale in Germiston in sy motor doodgeskiet.

Kapt. André de Jager, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ʼn werknemer van DEV-veiligheidsmaatskappy het saam met ʼn vriend in ’n amptelike, gemerkte patrollievoertuig by ʼn winkelsentrum gesit. “Vyf gewapende mans het hulle genader en net op hulle losgebrand. Die oorledene het probeer om weg te kom deur agteruit te jaag, en toe in ʼn minibus agter hom vasgery en tot stilstand gekom,” het De Jager verduidelik.

Volgens De Jager het die verdagtes op die voertuie toegeslaan en albei insittendes vir wapens deursoek, maar niks gevind nie. “Die veiligheidsbeampte het aan sy skietwonde beswyk en is op die toneel dood,” het De Jager gesê.

De Jager het gesê die ander slagoffer het slegs geringe beserings opgedoen. Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is omstreeks 19:45 na die toneel ontbied, maar die veiligheidswag het reeds voor hul aankoms op die toneel aan sy wonde beswyk.

ʼn Saak van moord word deur die polisie ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.