Veiligheidswag in verbyry-skietery vermoor

‘n Veiligheidswag is in die skietery dood. (Foto: Rusa/Facebook)

ʼn Veiligheidswag is doodgeskiet en twee van sy kollegas gewond in ʼn verbyry-skietery in Umdloti in KwaZulu-Natal.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê hy het Dinsdag kort voor 19:00 verskeie oproepe van strandbesoekers ontvang nadat daar op die veiligheidswagte losgebrand is.

Die insittendes van ʼn swart Mercedes-Benz het glo met grootkaliberwapens op die insittendes van ʼn wit Toyota Corolla, met die handelsmerk van LSC VIP Protection daarop, in die omgewing van die getypoel losgebrand.

Die verdagtes het daarna weggejaag en Rusa sê hy het al sy beskikbare reaksiebeamptes en paramedici na die toneel gestuur.

Die motief vir die aanval was nie dadelik duidelik nie. (Foto: Rusa/Facebook)

Volgens Rusa is die insittende van die voertuig wat agter die bestuurder gesit het, op die toneel dood verklaar. Paramedici van ʼn ander nooddiens het intussen met kunsmatige asemhaling op die bestuurder van die motor begin.

“ʼn Derde persoon is in die arm gewond, terwyl ʼn vierde insittende gevlug het toe die skietery begin het. Die persoon het later na die toneel teruggekeer.”

Verskeie patroondoppies is op die toneel gevind.

Die motief vir die aanval is nie in dié stadium duidelik nie.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, sê ‘n saak van moord en poging tot moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.