Veiligheidswag met brandwonde dood aangetref by busstasie

Argieffoto van die Rea Vaya-buslyn. (Foto: City of Johannesburg)

Die liggaam van ’n veiligheidswag is Vrydagoggend by ’n busstasie in Soweto gevind. Hy het brandwonde gehad.

ʼn Kollega van Dumisani Trevor Tani, die veiligheidswag, het vroegoggend op sy liggaam afgekom toe hy vir hul skofruiling opgedaag het.

Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), sê Tani het Donderdagaand by die Rea Vaya-busstasie in Klipspruit vir diens aangemeld.

Sy kollega het die volgende oggend omstreeks 04:50 opgedaag sodat hulle kon skofte ruil en dat hy die busstasie kon oopsluit. Hy was egter verbaas om die stasie so stil aan te tref en het na Tani in die toilet gaan soek.

Dit is waar hy Tani se liggaam gevind het. Hy het brandwonde gehad en nie gereageer nie.

Paramedici is na die busstasie ontbied en Tani is op die toneel dood verklaar.

Die polisie doen nou ’n geregtelike doodsondersoek om die oorsaak van Tani se dood te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.