Veiligheidswag vas vir transitoroof wat Valkelede eis

AO Wynand Herbst (links) en AO Delene Grobler-Koonin (regs) wat tydens die transitorooftog omgekom het (Foto: Argief)

ʼn Veiligheidswag is Woensdag vasgetrek in verband met ʼn transitorooftog wat die lewe van twee polisielede geëis het. Thuso Tshepo Lobelo (31) was glo lid van ʼn gewapende bende wat ʼn jaar gelede op ʼn geldwa in Mahikeng in Noordwes toegeslaan het.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, sê die bende het na wat verneem word op 6 Maart 2020 ʼn geldwa van die pad af gedwing en daarna oopgeblaas. Die rowers was net besig om die geldwa met plofstof oop te blaas toe lede van die polisie se spesiale taakmag toegeslaan het.

Toe die polisie die bende nader, het ʼn skietgeveg uitgebreek. AO Delene Grobler-Koonin (44) is tydens die skietery doodgeskiet. Sy is in die kop getref. Die verdagtes het daarna gevlug en die polisie het hulle agternagesit.

“ʼn Paar van die verdagtes is later die dag in Coligny by ʼn vulstasie opgespoor. ʼn Skietgeveg het weer uitgebreek waartydens AO Wynand Herbst (42) raakgeskiet is. Hy het later in die hospitaal aan sy beserings beswyk,” sê Rikhotso.

Tydens dié skietery is drie verdagtes doodgeskiet en twee gewond.

Agt van die bendelede is intussen al vasgetrek. Dié lede, Solomon Ngubeni (47), Jabulani Yika (38), Musa Mkhabele (33), Terefe Demmissie (39), Edgar Marule (47), Simphiwe Msibi (24), Jabulane Sibisi (53) en Danny Mafora (39), staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord, moord met voorbedagte rade, die besit van vuurwapens en ammunisie, die besit van plofstof en kwaadwillige saakbeskadiging.

Maroela Media het vroeër berig ses van die verdagtes is kort ná die voorval vasgetrek. Teen Junie was die polisie steeds op die spoor van Pascal Wiseman Langu (48), Tebo Phuthegolo, ook bekend as Boitumelo Mashishi, en Jabulani Andrew Sibisi, bekend as Mkhulu (53). Sibisi is sedertdien vasgetrek.

Hulle het saam met Lobelo Woensdag hul verskyning in die Mahikeng-streekshof gemaak. Die saak is na die hooggeregshof in Mahikeng oorgeplaas. Die verdagtes sal na verwagting op 12 April daar verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frank ·

Totaal gewentenloos hierdie mense. Die regering moet sy plig teenoor die landsburgers begin nakom. Begin deur die doodstraf terug te bring

pompies ·

Sou die doodstraf terug gebring word kan onskuldige mense gehang of gedood word soos bv. die 2 boere van coligny wat nou vrygespreek is nadat uitgevind is die staats getuie het gelieg. Oppas woorvoor jy vra, jy kry dit net miskien en dan hou jy nie daarvan nie. Ek se maar net.

Elize ·

Dit is jammer daar is nie erger straf as tronkstraf nie. Gewentenloos en koelbloedig.

Sêmanet ·

Ek dink altyd daaraan dat hul (polisie) wel “bulletproof” vests dra, maar wat van die ander dele van hul lywe? Soos die een wat in die kop geskiet is. Daar is ander dele van die liggaam wat jou ook kan laat sterf as jy geskiet word, nie net die bolyf nie. Jammer oor ons lede wat met hul lewens geboet het se families.

Harry ·

Ek vertrou dat CR darem tevrede is dat hierdie transito roof bende darem voldoen aan sy BBEEE vereistes.

antieke antie ·

nog n bewys… ‘veiligheidswagte’ is trojaanse perde…word vertrou in uniforms maar is kriminele

andre ·

Dis jammer ons kan nie fotos van die moordenaars ook sien nie

Sarel ·

SA Regstelsel..

Saak word uitgestel vir Borgtog aansoek ….aansoek duur etlike mnde…..botgtog word toegestaan….saak word teljens uitgestel en duur etlike mnde of jare…vonnis maar word aaneenlopend uitgedien….terug op straat binne 5jr

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.