Veiligheidswagte beseer ná Vrystaat-transitorooftog

Die ongelukstoneel op die R57, ongeveer 10 km buite Sasolburg in die rigting van Heilbron (28 Oktober 2017) Foto: ER24

Twee veiligheidswagte is Saterdamiddag ernstig beseer tydens ʼn kontant-in-transitorooftog op die R57 naby Sasolburg in die Vrystaat.

Paramedici is omstreeks 15:40 na die toneel ontbied waar die geldwa op sy sy langs die pad gelê het, het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, gesê.

“Een van die insittendes is ʼn paar meter van die voertuig gevind. Hy is vermoedelik uit die agterkant van die voertuig geslinger toe dit omgeslaan het,” het Vermaak verduidelik.

ʼn Nooddienshelikopter het hom na ʼn gespesialiseerde traumaeenheid in Gauteng geneem. Die man is vermoedelik in sy 40’s.

Paramedici en brandbestryders moes van meganiese toerusting gebruik maak om die bestuurder uit die wrak te bevry. “Hulle het die venster oopgebreek en hom uitgehaal. Hy is vir skrape en kneusplekke en vermoedelik rug- en nekbeserings behandel. Hy is later na ʼn hospitaal geneem.”

Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is ontbied na berigte van ʼn skietery en ʼn ongeluk ontvang is. “ʼn Bende het na bewering die geldwa aangeval en skote geskiet voor die geldwa die pad verlaat en omgeslaan het,” het hy gesê.

Plaaslike polisie en veiligheidsmaatskappye was op die toneel. Die polisie stel verder ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.