Veiligheidswagte oorrompel, ontwapen

(Argieffoto: Hansie Linde)

Twee veiligheidswagte is van hul dienswapens en maatskappyvoertuig beroof nadat rowers hulle Donderdagaand in die Bosbokrand-omgewing oorrompel het.

Die wagte het glo stilgehou terwyl hulle die gebied gepatrolleer het. Twee verdagtes het te voorskyn gekom, skote afgevuur en die twee wagte ontwapen voordat hulle die voertuig gekaap en daarmee weggejaag het, sê brig. Sevly Mohlala, polisiewoordvoerder in Mpumalanga.

Die aanvallers is ook vort met ʼn koeëlvaste baadjie en twee selfone.

Die voertuig is later verlate in ʼn straat in Dwarsloop gevind.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, polisiehoof in die provinsie, het die aanval op die veiligheidswagte ten sterkste veroordeel en sê minstens is hul lewe te midde van die “traumatiese en dodelike situasie” gespaar.

Sy het ondersoekers gevra om alles moontlik te doen om te verseker die verdagtes word aangekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicky ·

Want ons lei nie die wagte goed op om te reageer in verskillende situasies nie punt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.