Veiligheidswagte op konstruksieperseel in Kaapstad vermoor

Argieffoto

Die Stad Kaapstad het die moord op twee veiligheidswagte by ʼn behuisingskompleks in Philippi vroeër vandeesweek veroordeel.

Die twee veiligheidswagte is Sondag op die perseel by die Sweet Home Incremental Development Area, tans onder konstruksie in Philippi in Kaapstad, doodgeskiet.

Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir informele nedersettings, het gesê die veiligheidswagte het pas met hul skof begin om die ontwikkeling en die kontrakteur se toerusting teen diewe en vandale te beskerm, toe hulle aangeval is. Sy het gesê die stad het verskeie pogings aangewend om die perseel te beveilig en selfs bykomende veiligheidswagte en lede van omliggende gemeenskappe aangestel, maar almal het bedank uit vrees vir hul veiligheid.

“Hierdie veiligheidswagte het gewerk vir die derde veiligheidsmaatskappy wat aangestel is om die perseel te beskerm. Twee vorige maatskappye het onttrek weens misdadigers wat op ʼn gewelddadige wyse die ontwikkeling geteiken het. Die stad het selfs probeer om persone uit die gemeenskap aan te stel, maar hulle het bedank uit vrees vir hul veiligheid.”

Die stad het nou konstruksiewerk opgeskort omdat werkers te bang is om met die projek voort te gaan.

Limberg het gesê werkers van die stad en kontrakteurs word deur misdadigers oor Kaapstad heen geteister en dit belemmer doeltreffende dienslewering. “Ons doen ʼn beroep op enigiemand wat inligting het oor die persone wat verantwoordelik is vir die aanvalle, om na vore te kom en dit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan te meld.”

Die stad betuig sy meegevoel met die families, vriende en kollegas van die twee veiligheidswagte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

IK ·

Waar is ons beroemde SANWeermag? Hulle behoort ingespan te word!?

$ ·

Ek kan eenvoudig nie verstaan hoe mense dít wat opgebou word ter wille van die gemeenskap wil vernietig of verhoed nie. Of paramedici wat mense in nood te hulp stel en lewens red, aanval nie. Ek kon dit nog nooit en sal dit ook nooit verstaan nie.

Mag die families getroos word en vrede vind.

Huidige Weermag ·

Huidige weermag kan nie eers na perde omsien nie..volgens vorige artikel van SPCA…..glo nie enige persoon moet dis iets verwag van Weermag nie, dis nou te se as daar nog mense is wat werk!!

Onnie ·

Waar is die polisie? As almal weet dis so gevaarlik, hoekom word daardie 2 veiligheidswagte na hul dood gestuur? Hoe kan ‘n klomp drug-kop skollies die polisie ore aansit? Shoot to kill!

Henk du Toit ·

Politici werk as volg. Ons veroordeeel die moord op twee veiligheidswagte(lees broodwinners) skerp maar ons sal oor twee dae nie eers meer kan onthou wat hulle name was nie. Kom ons loop die strate plat vir stemme en deel kospakkies uit, deel n T-hemp uit en more vergeet ons weer van volronde beloftes en honger kinders. Dit is siek, siek, sieker as apartheid eeeeeeee…….but still…it is all because of apartheid.

Schalk ·

O golla hul tanks raak weg om dat hulle nie kan onthou waar hulle die goed laas gebruik het nie.Daar is voorstel dat hul rooi en geel geverf word dan kan hulle die goed sien want die kamoefleer verf verhoed hulle om die goed te kry.Kwalifikasies is maar skraps.

Elize ·

Die weermag!!!!!!! Al wat weer is is wat ons elke dag hoor hoe warm gaan dit word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.