Veilingverbod: Bedryf het reeds miljoene verloor

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Groep besorgde boere, verskeie afslaers en ʼn lewendehawekoöperasie is onder diegene wat die hooggeregshof vra om die algehele verbod op lewendehaweveilings dringend tersyde te laat stel.

Een van die twee sake wat teen die minister van landbou, Thoko Didiza, haar direkteur-generaal, die LUR vir landbou in Noordwes en die direkteur vir dieregesondheid aanhangig gemaak is, sou vroeër vandag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word. Dit is uitgestel nadat besluit is om dit met ʼn soortgelyke een deur ander applikante te verenig. Die sake sal nou saam aangehoor word.

Die hoofdoel van die aansoek is om ʼn dringende verklarende bevel te kry wat die aansoekers (en andere) toelaat om voort te gaan met veeveilings, óf om die kennisgewing van die verbod tersyde te laat stel.

Bek-en-klouseer is ʼn hoogs aansteeklike dieresiekte en nadat dit in November verlede jaar wéér uitgebreek het, het die minister op 4 Desember ʼn landwye verbod op lewendehaweveilings geplaas.

Rolspelers sê dié voortslepende verbod is besig om die bedryf lam te lê.

Luidens die hofstukke het die verbod reeds tot die verlies van miljoene rande vir afslaers, boere en ander rolspelers gelei en die aansoekers voer aan die voortsetting van die verbod gaan eindelik lei tot die totale ineenstorting van die veilingbedryf. “Die uitwerking gaan net so rampspoedig wees vir Suid-Afrika. Dit gaan tot groot finansiële verliese, die sluiting van groot maatskappye en duisende werksverliese lei.”

Hulle vra dus dat die saak so gou moontlik aangehoor word omdat elke dag wat die verbod geld tot verdere groot geldverliese lei. Die betrokke maatskappye kan in dié stadium geen inkomste verdien nie, maar moet steeds uitgawes en salarisse betaal.

Een van die applikante, BGM Trading, se maandelikse omset is luidens die hofstukke nagenoeg R400 miljoen. Die bedrag behels ook die geld wat aan verkopers betaal word en die wins is ʼn gedeelte van dié omset. In die geval van die ander afslaers, is hulle maandelikse omset minstens R65 miljoen.

“Hierdie is net sommige van die afslaers in Limpopo en Noordwes wat geraak word en sluit glad nie alle afslaers in Suid-Afrika in nie. Die finansiële uitwerking van die afkondiging is astronomies en moet so gou moontlik opgelos word,” lui die hofstukke.

Die minister het aangedui dat die verbod moontlik oor ses weke opgehef kan word, maar die aansoekers sê só ʼn terloopse onderneming dra geen gewig nie en is onderhewig aan verskeie voorwaardes.

Andreas Peens, een van die betrokke regsverteenwoordigers, het gesê die saak sal na verwagting nou op 12 Februarie aangehoor word. Hy het gesê ander produsente of rolspelers in die bedryf is steeds welkom om by die saak, wat as ʼn kwessie van nasionale belang beskou word, betrokke te raak.

Peens het ook sy kommer uitgespreek omdat geen landbou- of bedryfsorganisasie vandag se verrigtinge bygewoon het nie.

Die Rooivleisprodusente-organisasie het wél gevra om as vriend van die hof by die saak gevoeg te word.

Die departement van landbou het Dinsdag intussen gesê nóg drie voorvalle van bek-en-klouseer is aangemeld nadat drie uitbrekings in Desember en nóg een vroeër in Januarie aangemeld is. Daar was dus altesaam 15 gevalle sedert die hoogs aansteeklike siekte einde verlede jaar weer kop uitgesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Muffin ·

Afgesien van die verliese wat boere, afslaers en besighede maak besef die staat nie hoeveel miljoene rande hulle verllor op BTW nie.

Piet parys ·

Ek dink die onbevoegde minister moet ook maar geen inkomste kry tot bek en klou opgehef word. As sy haar werk gedoen sou dit onder beheer gewees het in limpopo. As mense die statistieke terug navors is dit ñ probleem wat nou al jare aangaan .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.