Veilingverbod geld nou landwyd

(Foto ter illustrasie: pixabay)

ʼn Landwye verbod geld voortaan op veeveilings as deel van ingrypende maatreëls om die jongste uitbreking van bek-en-klouseer hok te slaan.

Die minister van landbou, Thoko Didiza, het die besluit Woensdag in die Staatskoerant afgekondig.

Die verbod geld vir alle samekomste van diere, hetsy dit skoue, veilings, vir spekulasiedoeleindes of enige ander byeenkomste is. Die verbod is van toepassing op alle lewende gesplete hoefdiere wat na een bestemming geneem word vanaf meer as een plek van oorsprong.

Die jongste uitbreking is aanvanklik in die Molemole-distrik in Limpopo aangemeld, ná nóg ʼn uitbreking van die siekte in die Vhembe-distrik vroeër vanjaar. Die verbod op veilings het eers net in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes gegeld.

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het gesê hoewel die besluit uiters ingrypend is, is dit ook ʼn noodsaaklike een.

Schutte het gesê nagenoeg 1,2 miljoen huishoudings in Suid-Afrika besit vee – dit sluit kommersiële en opkomende boere in. “Dit het ʼn uitwerking op groot en kleinboere, dit raak die hele platteland,” het hy gesê.

Die RPO vra ook dat die minister ʼn ramp afkondig, wat beteken ander wetgewing geld en bykomende hulpbronne word dadelik beskikbaar gestel. Bykomende kundigheid kan dan ook ingebring word.

Schutte het gesê die departement moet alle beskikbare hulpmiddels inspan om vas te stel presies wáár die siekte voorkom en wat die omvang daarvan is. Sodra dit gedoen is, kan die situasie doeltreffender bestuur word.

“Ons het die weermag en die polisie nodig om die geraakte gebied toe te hou, maar ons moet eers bepaal wáár die geraakte gebiede is,” het Schutte gesê.

Hy het gesê die siekte – en daaropvolgende maatreëls – het verreikende gevolge vir boere, en dat die departement die situasie met die nodige erns móét hanteer. “Die verbod is in belang van die bedryf, maar dit is ʼn drastiese stap met ʼn groot uitwerking op produsente. Die departement moet nou net so drasties iets daaraan begin doen.”

Bek-en-klouseer is ʼn hoogs aansteeklike virus wat beeste, varke, skape, bokke en ander gesplete hoefdiere raak. Die siekte raak mense glad nie en dit is heeltemal veilig om produkte van dié gesplete hoefdiere, soos melk en vleis, te eet. Een-tot-een-transaksies is steeds toelaatbaar as ʼn veearts die diere bek-en-klouseer-vry sertifiseer en diere kan steeds by ʼn abattoir geslag word.

Schutte het gesê die produsenteprys het boonop die afgelope ruk gedaal, wat goeie nuus is vir verbruikers wat beoog om die vakansietafels onder die vleis te laat kreun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

sannie ·

Waar is rooivleis goedkoper sê my dan ry ek nou soontoe om te gaan koop

marietjie ·

Snaaks maar in die winkels sien mens geen daling in die prys nie. Dit word eerder duurder as goedkoper. Laat ons asb weet waar daardie goedkoop vleis is.

Hexadane ·

Baie maklik om dit te verduidelik, Hoe minder daar geslag kan word, hoe skaarser word die produk en dan ook duurder. Die probleem stop nie net daar nie sodra dit weer oopgestel word gaan daar n oorvloed van diere wees wat slagpale toe kan gaan, dit in sy beurt gaan vir die boere sleg wees want dan gaan hulle nie geld vir die diere kry wat hulle huidiglik kon kry nie, want die diere vreet hulself in n ander vleisklas in.

sdp ·

Boer jys so reg. Daar is enorme gevolge. Maar ja, dit is as jy van n gewone koffie masjien n George Clooney espresso 1 maak

June ·

Die ouens in die rural gebiede waar die beeste vry loop steur hulle nie aan enige regulasies nie. Dit raak al hoe moeiliker om bek en klou siekte te bekamp.

Weet nie Meer nie ·

Dit is waar woorde kyk na die werk like probleem die gebied waar die diere rond loop sonder heinings en voertye in gevaar stel ek Wil ook weet waar die goed koop vleis is

Jan ·

Wat help dit om veilings te stop, trokke en sleepwaentjies ry die wereld vol, padblokkades sou gewerk het, maar die kommandos was die enigste wat dit kon regdoen en 24 uur landwyd, nou is daar niemand, die Sapd en weermag kan jy met n suigstokkie omkoop, niemand keer straatslagters ens nie

Skepties ·

Ek wonder of hierdie nie n politieke foefie is om vir die people goedkoop vleis op die tafel te sit en die boere verder te vertrap te midde van die droogte nie. Klink vir my hulle weet nie waar presies die uitbraak is nie en die area is nog nie geisoleer nie. Doen mens dit nie eerste nie?

Annatjie ·

Nee Skepties dis die waarheid. Die probleem is egter dat toe die eerste gevalle al in die begin van die jaar gevind is, is die nodige voorsorgmaatreëls nie getref nie. Dit sou die staat op daardie tydstip te veel geld gekos het. Nou verloor hulle duisende rande d.m.v belastings, brandstof heffings ens

Adam ·

Heeltemal korrek Annatjie en nou word die helelandbousektor gestraf vir die nalate om die siekte van vroeg in 2019 korrek te bestuur het. Veilingsbesighede, ander verwante landboubesighede en veral boere word geweldig hard getref en daar sal weinig indien enige hulp van die regering wees. Hulle is so platsak soos ‘n student op die laaste dag van ‘n maand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.