Veilingverbod weens bek-en-klouseer opgehef

Die minister van landbou het aangekondig die landwye verbod op lewende hawe-veilings word opgehef. (Foto: Anja van der Merwe)

Die minister van landbou het ʼn landwye veilingverbod weens die uitbreking van bek-en-klouseer Maandag opgehef.

Die siekte het drie maande gelede in die Molemole-distrik in Limpopo uitgebreek en daar is sedertdien gespook om dit in bedwang te bring.

Die veilingverbod het tot verliese van miljoene rande vir die bedryf gelei.

“Daar is voorwaardes verbonde aan die hervatting van veilings en dit gaan net onder uiters streng voorwaardes toegelaat word,” het Thoko Didiza gesê.

Alle lewendehawe-agente moet onder meer by die Raad vir Landbouprodukte-agente (APAC) geregistreer wees. Diegene wat reeds die registrasieproses ondergaan het, mag voortgaan met veilings. Volgens Didiza het alle APAC-sertifikate wat voor 2 Maart 2018 uitgereik is, verval en moet daar voor 30 Maart vir hernuwings aansoek gedoen word.

Die departement sê die ophef van die verbod moet nié as ʼn aanduiding beskou word dat veilings nou veilig is nie. Daar moet dus by die maatreëls gehou word om te verseker dat diere nie besmet word nie. Dié maatreëls sluit in ʼn beperking op die verskuiwing van hoërisiko-diere, soos diere wat reeds tekens van die siekte toon, of wanneer daar onsekerheid is oor die oorsprong van diere.

(Argieffoto: pixabay)

“Ek is bewus van die maatskaplike en ekonomiese uitwerking wat die verbod op boere, handelaars en ander rolspelers in die bedryf gehad het. Ek wil die land verseker dat die besluit nie ligtelik geneem is nie en in werking gestel is as ʼn manier om die siekte te beheer,” het Didiza gesê.

Die departement se veeartsenydienste werk steeds saam met boere om die uitbrekings op geraakte plase te bestuur. Daar is reeds begin om diere by spesifieke abattoirs te slag en bykomende maatreëls is ingestel om die verspreiding van die siekte deur materiaal soos koppe, pote en afval te voorkom.

Didiza het boere vir hul samewerking in dié verband bedank.

Volgens haar is dit nog te vroeg om te sê dat die uitbreking van die siekte in die bek-en-klouseervrye sone agter die rug is, hoewel dit lyk of die verspreiding van die siekte vir eers gestuit is. ʼn Lang pad lê nog voor voordat die einde van die uitbreking verklaar kan word, om nie eens te praat van die internasionale erkenning van dié status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) nie, het Didiza gesê.

Die minister het gesê die uitbreking het die klem geplaas op gebiede waar veel nouer samewerking tussen die regering en boere nodig is. ʼn Span is reeds saamgestel om saam met die bedryf te werk om ʼn strategie vir beter bestuur van die siekte in die beheergebied saam te stel. Die maatreëls wat ontwikkel gaan word, sal fokus op die versterking van bestaande maatreëls en die inwerkingstelling van volhoubare planne om die siekte te beheer.

Minister Thoko Didiza. (Foto: GCIS)

Die jongste uitbreking het dit ook weer duidelik gemaak hoekom dit belangrik is om individuele diere te identifiseer en na te spoor, het die departement gesê.

Die Molemole-uitbreking is op 1 November verlede jaar eers in die Capricorn-streek in Limpopo en daarna dadelik by die OIE aangemeld. Dit het gevolg ná ʼn soortgelyke uitbreking in Januarie verlede jaar in die Vhembe-distrik.

Die uitbreking is met vier veilings by twee plekke verbind en nagenoeg 160 persele wat bande het met die veilings is geïdentifiseer. Dit sluit in eiendomme wat diere van die twee plekke ontvang het, diere vir die veilings verskaf het, of indirek gekoppel kon word.

Al die persele is besoek, onder kwarantyn geplaas en toetse is gedoen om vas te stel of die siekte teenwoordig is. Die voorlopige kwarantyn op meer as 90 van dié persele is reeds opgehef.

Diere op altesame 18 plase het positief vir die siekte getoets. Die meeste van dié eiendomme is kommersiële boerderye of voerkrale wat behoorlik omhein is en noukeurige rekords van elke dier hou. Dít het die proses vergemaklik om behoorlik beheermaatreëls in te stel sonder dat noodinentings, padblokkades of die slag van diere nodig was.

ʼn Groep besorgde boere, verskeie afslaers en ʼn lewendehawe-koöperasie is onder diegene wat ʼn regsproses van stapel gestuur het om die minister te dwing om die verbod op te hef. Hul aansoek sou aanstaande maand in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Didiza het Maandag gesê sy het besluit om die verbod op te hef op aanbeveling van die departement se tegniese taakspan wat die afgelope naweek terugvoer oor die situasie gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gato ·

‘n Goeie begin sou wees om die bek en klouseer heinings te herstel en instand te hou.
Langs die Limpopo rivier is die heinings aan flarde en beeste loop deur die droe rivier van Botswana na SA en terug na wille keur. Basiese goed wat die regering nie wil of kan verstaan nie.

Ann ·

Ek is baie dankbaar. My kliënte is almal boere en hulle trek swaar met die veilings wat gestaak is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.