Veldbrand in Robertson ‘buite beheer’

Verskeie wegholveldbrande het oor die afgelope naweek in die Wes-Kaap uitgebreek. (Foto: Facebook / Working on Fire)

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit het Sondag gesê die veldbrand wat Saterdag by Agter-Vinkrivier in Robertson uitgebreek het, is “buite beheer”.

Dié brand is glo laatmiddag deur weerlig veroorsaak en woed tans hoofsaaklik in ontoeganklike gebiede van die Langeberge.

Maroela Media het vroeër berig dat brandbestryders van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit sedert Saterdag teen verskeie brande in die distrik baklei. Brandbestrydingsaktiwiteite gaan ook in die George-omgewing voort, waar ʼn brand by die Kammanassie-berge Saterdag weer opgevlam het.

Brande het ook in ander dele van die Wes-Kaap ontstaan, onder meer in Kaapstad, die Overberg-streek en die Weskus.

Volgens die munisipaliteit is die brandlyn in Robertson baie groot, maar word hulpbronne tans proaktief ingespan om lewens, infrastruktuur en eiendom te beskerm.

Verskeie wegholveldbrande het oor die afgelope naweek in die Wes-Kaap uitgebreek.
(Foto: Facebook / Working on Fire)

“Die vordering van die brand word deur spanne aan die Montagu- en die Robertson-kant gemonitor. Hierdie spanne sal hulpbronne daarop toespits om te verhoed dat die brand eiendom bereik,” het die munisipaliteit op Facebook gesê.

Die brand wat in die Pêrelvallei in die Paarl uitgebreek het, is volgens die munisipaliteit grootliks in bedwang.

Daar heers egter kommer dat die vonke tot brande by nabygeleë rietdakstrukture kan lei.

“Die digte plantegroei, waarvan die meeste nog smeul, veroorsaak baie rook. Op hierdie stadium gaan dit goed met brandbestrydingsaktiwiteite, maar spanne is bekommerd dat die wind kan opsteek en vonke na die nabye rietdakstrukture versprei. Alle monitering- en opruimingstake word in dié gebied voortgesit.”

Die omvang van die skade hier is nog nie bekendgemaak nie.

Brandspanne in die George-omgewing het ook deur die nag gespook om te verhoed dat ʼn weghol-veldbrand wat Saterdag weer in die Kammanassie-berge opgevlam het, na drie klowe versprei wat die naaste aan strukture geleë is.

Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het Maandag gesê ’n verkenningsvlug is reeds vroegoggend onderneem om hoëprioriteitsgebiede te identifiseer. Lugsteun sal nou ingespan word om grondspanne met die onderdrukking van brande in dié gebied by te staan.

Verskeie wegholveldbrande het oor die afgelope naweek in die Wes-Kaap uitgebreek.
(Foto: Facebook / Working on Fire)

“Dit sal brandbestryders help om infrastruktuur te beskerm en brande in gebiede wat van wes na oos strek, te onderdruk.”

Daar is in dié stadium geen lewensverlies of skade aan infrastruktuur aangeteken nie.

Die munisipaliteit het inwoners bedank wat gebottelde water en energiedrankies aan brandbestryders geskenk het.

Altesaam 88 brandbestryders van Working on Fire-spanne het in samewerking met brandbestrydingsowerhede van die provinsiale rampbestuursentrum, distrik- en plaaslike munisipaliteite, grondeienaars en SANParke gehelp om 12 brande oor die naweek te bestry, waarvan die meeste tans in bedwang is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
JM

Al die brande darem net te toevallig.

Diline

AL die brande wat deesdae so uitbreek is kommerwekkend! Daar was nog nooit soveel brande in SA soos nou die geval is nie. Iewers is daar ‘n slang in die gras, dis verseker. As ons net kyk na hoeveel PLASE al afgebrand het is dit duidelik dat brandstigting plaasvind.

Marius

Die brand bestryding spanne werk hard en waag soms hul lewens om ander se lewens te beskerm. Dit is ‘n edel taak.

Pierre

Weerlig?

Rooikoos

Ek glo nie die weerlig storie nie. Jammer.