Veldbrand verwoes rondawels by oord in Drakensberge

Verskeie hutte, was as verblyf vir werkers gebruik word, is in die brand verwoes. (Foto: KZN-toerisme)

Die Injisuthi-kamp in die uKhahlamba-Drakensbergpark is gesluit ná ʼn brand gedeeltes van die park verwoes het, het Nomusa Dube-Ncube, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake in KwaZulu-Natal, gesê.

“ʼn Veldbrand het Saterdag vinnig deur die omheinde park versprei en het 11 rondawels waarin werkers woon, asook ʼn werkswinkel en wassery verwoes,” het Dube-Ncube gesê.

Die park vorm deel van Ezemvelo KZN Wildlife wat meer as 114 beskermde gebiede en nagenoeg 42 fasiliteite bestuur.

Dube-Ncube het gesê Ezemvelo-werkers wat in die rondawels woon, het al hul besittings in die brand verloor. Slegs drie hutte kon gered word.

Die Injisuthi-kamp in die uKhahlamba-Drakensbergpark. (Foto: Aubrey Offer/Facebook)

Gaste en werkers is ongedeerd en amptenare was Maandag steeds besig om die omvang van die skade en die oorsaak van die brand vas te stel.

Dube-Ncube het gesê die brand het uitgebreek terwyl Ezemvelo KZN Wildlife geleidelik sy deure vir die publiek heropen nadat dit weens die staat van algehele afsondering gesluit was.

Volgens haar het parke in Ezemvelo Wildlife se stal in die 2019-’20-boekjaar altesaam 740 130 besoekers ontvang, ʼn daling van 5,3% – oftewel 41 778 besoekers – in vergelyking met ʼn jaar tevore.

Altesaam 83,4% van besoekers is Suid-Afrikaners, terwyl besoekers uit die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap 0,1% van besoekers uitmaak. Altesaam 16,5% van besoekers is buitelanders, hoofsaaklik uit Duitsland, Frankryk, Nederland, Engeland, België en die VSA.

“Ten spyte van die groot terugslag wat die Covid-19-pandemie vir die toerismebedryf veroorsaak het, is ons visie steeds om ʼn sterk en volhoubare toerismebedryf te bou wat die lewe van KwaZulu-Natal se mense verbeter,” het Dube-Ncube gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.