Veldgids in hospitaal ná olifant hom gaffel

Conrad Zeelie en sy vrou, Chanyn. Foto: Facebook

Conrad Zeelie en sy vrou, Chanyn. Foto: Facebook

ʼn Jong veldgids is in die hospitaal nadat ʼn olifantkoei hom Vrydagoggend met haar tande bygekom het.

Conrad Zeelie (23) was saam met toeriste op ʼn staptoer deur ʼn wildreservaat in Sabie, Mpumalanga, toe die voorval gebeur het.

Conrad se suster, Carmi Zeelie, het gesê haar broer werk vir ʼn organisasie wat veldgidse oplei en is vanoggend gevra om as veldgids uit te help. Hy het saam met twee toeriste en ʼn ander veldgids gaan stap toe die groep op ʼn trop olifante afgekom het. “My broer het agter geloop as die rugsteunveldgids, wat eintlik ʼn gevaarlike posisie is omdat hy moet sorg dat geen gevaar van agter af kom nie,” het Carmi gesê.

Die ander veldgids het voor geloop om die groep te lei en het ʼn geweer saam met hom gedra. “Die trop was ʼn teeltrop olifante, so daar was olifantkoeie met klein kalfies,” het Carmi gesê. Die volgende oomblik het die groep skielik besef dat daar ʼn olifantkoei met haar kalfie agter hulle staan.

“Wanneer ʼn koei van haar teeltrop afgesny word, raak sy baie gestres veral as die kalfie nog klein is. Wat veldgidse dan gewoonlik doen, is om ʼn lawaai te maak sodat die koei skrik en ʼn ander pad na die trop toe kies,” het Carmi gesê. “My broer-hulle het toe presies dit gedoen en lawaai gemaak deur te skree en rond te spring, maar dit het nie gewerk nie. Die koei het baie ontsteld geraak, op my broer afgestorm en hom met haar tande gegaffel.”

Conrad is deur die koei in die lug in gegooi en het bo-op ʼn bos te lande gekom. Die koei het nader gestorm om hom te vertrap, maar die ander veldgids kon die koei betyds skiet voordat sy by Conrad kon uitkom. Die olifant het bo-op Conrad geval, maar is op die plek dood.

“Die mense het my broer onder die olifant uitgetrek. Hy was tydelik verlam en het ander beserings oor sy lyf opgedoen, maar gelukkig was daar nie permanente skade [aan sy bene] nie,” het Carmi gesê. “Paramedici was baie vinnig op die toneel om hom te behandel en het met hom hospitaal toe gehaas.”

Carmi het in ʼn onderhoud met Pretoria FM gesê die voorval is net weer ʼn bewys dat ʼn mens die natuur en wilde diere moet respekteer. Luister na die volledige onderhoud hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sarie Myburgh ·

Ai jinne dis so hartseer, nou is die arme olifant weer doodgeskiet deurdat sy haar klafie wou beskerm!!!!!!!!!! Ek voel jammer vir die weldwagter wat beseer is maar ai, hoekom moet die mense altyd krap daar waar dit nie jeuk nie en dan moet die arme diere altyd van kant gemaak word as iets gebeur, dink nie dis reg nie

Christine ·

Ag mense word tog nou mooi groot en tree verstandig op. Wat voeter julle alewig in waar julle nie hoort nie. Wildreservate julle is die groot sondebokke. Stop dit. En toeriste julle kan hierdie ding stop.

Willie ·

Dit wil voorkom of die wildbewaarders nie baie goed opgelei is nie, hoekom het hulle nie liewer probeer om uit die pad van die ma en haar kalf te kom nie, dan sou sy heelwaarskynlik sonder om aggressief oor ‘n lawaai te word by die trop aangesluit het.

Agnes ·

ek stem saam, die natuur is geskep vir die wild sodat hulle in natuurlike omstandighede kan leef en aanteel. Wat soek mense, toeriste, daar. Stop asb die staptoere en ry dan liewer met n kar.

Gideon ·

Ag nee, wat ‘n skande, die arme olifant loop in haar trop in die natuur en word versteur, en dan geskiet!! ‘n Uiterste skande!! Bly uit die natuur, as julle nie weet hoe die natuur werk nie.

Si ·

jmr om te hoor van die veldwagter..waarom waarom nou die koei skiet….hulle was in die natuur waar hulle hoort….wie het nou oortree!!!!!!!!

Piet ·

Die ouens soek n “Mickey Mouse Badge ” Wat soek hulle te voet tussen gevaarlike wilde diere ? Totaal onnosel met publiek wie hulle moet beskerm , nee , onbegryplik en onaanvaarbaar. Mens doen nie dit aan ons laaste erfenis nie , wat nou van die arme kalfie ? Nog n Mickey Mouse Badge vir die een wie hom grootmaak , ons roei ons eie uit , SKANDE ! Hopelose situasie.

Laeveld inwoner ·

Wilreservaat in SABIE, Mpumalanga? Nog nooit van gehoor!

HEVW ·

Praat van ondervinding. Die veldgitse word opgelei. maar hul benadering in die opsig is totaal verkeerd. Wat die modusoperandi moet wees veldgitse en toeriste bly eenvoudig weg van n trop olifante waar daar kalfies is en klaar. Dit is die beste veiligheidsmaatreel wat toegepas kan word. Hierdie gebeure kon op n baie hartseer tragedie geeindig het.

Winston ·

Gidse wat nie vertroud is met die olifante se gewoontes in die reservaat nie. Die natuur het reëls. Hou daarby dan hoef onskuldige diere nie geskiet te word nie. Logies en maklik. Maar ons wil mos maak soos ons wil. Dit werk nie in die natuur nie. As jy wil roulette speel, volg n gekweste luiperd!!! Dit sorg vir genoeg adrenalien.

Frans ·

Dit is vir my vreeslik interessant om almal se kommentaar te lees oor hoekom moes hulle die olifant skiet… Wel uhm ek dink die veldwagters het een van hul eie verdedig net soos die koei haar kleintjie verdedig het. In hierdie geval het die veldwagter net beter daarvan afgekom. Wag tot dit jou kind of broer of ouer is wat aangeval word, jy sou dalk nog wreder opgetree. En ek twyfel baie sterk of sulke goed opgeleide mense sommer net aspris vir moeilikheid sou gaan soek. Dinge gebeur en mens het nie altyd beheer oor dit. Die koei is ook eers geskied nadat sy hom reeds deur die lug geslinger het so daardie veldwagters het verseker gewag tot op die uiterstes voor hul met gewere opgetree het. Was jy daar??

Sam ·

‘n Dier in sy natuurlik omgewing wat alweer doodgemaak moes word omdat hy doen wat natuurlik kom ek wens die idiots wil uit die bos uit bly hy kom nie in jou huis nie, bly weg uit syne!! Teen die trant gaan daar oor ‘n paar jaar geen meer diere wees in die wild nie, gaan kyk wat doen die mense in die wildtuin en op sulke privaat plekke en elke keer moet die dier van kant gemaak word net omdat hy homself wil beskerm!!

Petro ·

Ai dis so jammer dat die arme olifant dood is net omdat sy haar kalfies beskerm wat de hell het geword van daai uitsit gewere wat hul gebruik mense sien hoe gaan dit deesdae in die natuur reservate hoekom hou hul nie daai tranquiliser guns eerder aan nie die wilde diere kom nie in jou huis in nie so moenie in hul huis(die natuur) ingaan nie.Jammer dat seun aangeval was en bly hyt oorleef maar mense moet respek he soos Conrad se vir die natuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.