Veldtog begin vir behoud van Afrikaans op Kovsies

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Die vakbond Solidariteit het ʼn omvattende veldtog vir die behoud van Afrikaans op die Universiteit van die Vrystaat (UV) van stapel gestuur.

Die veldtog volg nadat prof. Jonathan Jansen, UV se rektor, onlangs sy voorneme om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal by dié universiteit, bekendgemaak het.

Volgens Johan Botha, hoof van die Professionele Bedryf in Solidariteit, het prof. Jansen in ʼn onlangse skrywe aan personeellede die wegdoening van Afrikaans by die universiteit aangeprys. “Hierin motiveer hy die voorstel deur na die nadele van ’n dubbelmedium-onderrigtaal vir beide studente en dosente te verwys. Daar is ook reeds tydens ʼn raadsvergadering voorgestel dat die universiteit voortaan van ʼn enkelmedium-onderrigtaal (Engels) gebruik moet maak.”

Botha het gesê die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by Kovsies sal verreikende gevolge inhou. “Solidariteit meen die verwydering van Afrikaans op Kovsies sal nie net Afrikaans as akademiese taal marginaliseer nie, maar sal ook ons lede direk raak deurdat dit ʼn kultuur van stoomroller-transformasie ten opsigte van die universiteit se personeel onder bestuur sal aanwakker.”

Solidariteit het as deel van sy veldtog prof. Jansen formeel in kennis gestel van die vakbond se voorneme om insette aan die universiteite se taalkomitee voor te lê. “Die genoemde taalkomitee sal ná wye oorlegpleging aanbevelings oor ʼn taalbeleid in November vanjaar aan die universiteitsraad moet voorlê. Solidariteit het daarom ook besluit om ’n platform te skep waar mense wat pro-Afrikaans is hul stem kan uitbring oor die taalbeleid.

“Dit blyk uit prof. Jansen se openbare, uitgesproke steun vir transformasie op tersiêre vlak dat die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal by Kovsies eintlik polities gemotiveerd is. Ons wil met dié veldtog verhoed dat prof. Jansen deur middel van sy onverbiddelike ideologie oor transformasie die Afrikaanse karakter van Kovsies verswelg,” het Botha gesê.

Vir meer inligting oor die veldtog klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nic de Bruyn ·

Pos die nikswerd Rektor. Kan geen wetenskaplike waarde toevoeg tot die Universiteit nie.

Winston ·

Ja nee wat. Dis net taal rasisme. Pos hom en sy ideologie. Afrikaans sprekendes het ook regte. As alles wat “in belang van” gedoen is, suksesvol en iets werd was, waarom is die land so vêr agteruit?

Jennefer ·

Dis jammer want ek was verbaas om te sien hoeveel bruin mense en studente daar in Bloemfontein is, en ek dink die meeste is Afrikaans sprekend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.