Veldtog oor munisipale waardasies geloods

(Grafiek: pixabay)

Die landbou-organisasie TLU SA het ʼn veldtog van stapel gestuur wat mense die geleentheid bied om kapsie te maak teen wat hy noem “opgeblaasde eiendomswaardasies”.

Die Munisipale Eiendomsbelastingwet bepaal dat die markwaarde van ʼn eiendom op ʼn gereelde grondslag vasgestel moet word. Die Tshwane-metroraad is tans besig met dié proses om sy waardasierol by te werk.

“Ons het uit verskeie oorde verneem dat die waardasies van eiendomme op sekere plekke, veral in die landbousektor, onredelik en uitermatig verhoog word,” het Louis Meintjes, TLU SA-president, gesê.

“Met hierdie veldtog moedig ons alle grondeienaars aan om kapsie te maak teen opgeblaasde eiendomswaardasies.”

Meintjes, wat noord van Cullinan met groentesaailinge boer, sê sy eie eiendom is volgens die nuwe waardasierol 80% hoër gewaardeer as voorheen. Die hoër waarde gaan veral ʼn uitwerking hê op die belasting wat die metroraad voortaan op die eiendom mag hef.

Meintjes sê hy pomp sy eie water, maak gebruik van Eskom-krag, raak self ontslae van sy vullis en verwerk sy eie rioolvuil, maar tog moet hy wesenlik opdok vir munisipale dienste.

Hy sê akkurate eiendomswaardasies is belangrik omdat buitensporige verhogings lei tot verhoogde grondbelasting, wat ʼn bykomende las op eienaars plaas. Dít terwyl grondeienaars in die landelike gebiede geen of min dienste van disfunksionele munisipaliteite of rade ontvang nie.

Volgens Meintjes is nog ʼn werklike bekommernis die verhoging in munisipale tariewe wat later vanjaar ingestel moet word. Hy meen dit gaan, saam met die waardasieverhoging, vir ʼn rekeningskok sorg.

“Elkeen wat eiendom besit moet gaan kyk na die waardasie. Daar kan nie sulke buitensporige hoë aanpassings gemaak word nie.”

Ben Espach, ʼn professionele waardeerder en direkteur van die onderneming Rates Watch, stem saam dat dit belangrik is om die waardasie self na te gaan.

Hy verduidelik egter dat as die eiendom voorheen te laag gewaardeer was, ʼn regstelling nou gedoen moet word. “As die basis aanvanklik te laag was, is dit sinneloos om nou net na die verhoging te kyk.”

Espach sê die waarde van jou eiendom kan ook gesien word as ʼn weerspieëling van jou vermoë om belasting te betaal.

Hy sê daar ʼn wél beswaarproses wat gevolg kan word as ʼn eienaar nie met die nuwe waardasie saamstem nie, maar dat die markwaarde van ʼn eiendom eindelik die toets is waaraan ʼn eiendom gemeet moet word. In praktiese terme beteken dit ʼn eiendom word vergelyk met ander soortgelyke of vergelykbare eiendomme in dieselfde buurt wat verkoop het naby die datum van waardering. In die geval van Tshwane is die datum van waardering 1 Julie 2019.

Die tydperk vir beswaar het op 26 Februarie begin en eindig op 5 Mei. Alhoewel die kennisgewing nie duidelik maak of besware per e-pos ingedien kan word nie, het die waarnemende munisipale waardeerder aangedui dat besware weens die afsonderingstydperk wel elektronies ingedien kan word.

Die nuwe waardasielys vir Tshwane is hier beskikbaar.

So word die waardasie op ‘n munisipale rekening aangedui.

Wat betref ʼn tariefverhoging sê Espach die nuwe tariewe moet op 1 Julie in werking gestel word, maar hy meen dit sal onverantwoordelik van ʼn stadsraad wees om nie die verhoogde waardasies in gedagte te hou wanneer die tariewe vasgestel word nie.

“Die konsepbegrotings is egter klaar opgestel. Dit moes in die Maart-raadsvergaderings aanvaar word en as dit nie vir die Covid-19-uitbreking was nie, sou ons teen dié tyd al geweet het wat die tariefverhogings gaan wees.”

Espach sê die land beleef ʼn onseker tyd en dit is moeilik om nou te sê wat die kwessie eindelik in rand en sent-terme gaan beteken.

TLU SA sê hy sal grondeienaars bystaan om waardasies na te gaan en beswaar te maak teen onakkurate waardasierolle. “Dit is veral tydens die 21 dae van inperking belangrik dat mense steeds hierop ag slaan aangesien daar nie duidelikheid is of die tydperk vir beswaar verleng sal word nie,” sê Meintjes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael 1 ·

Die Tshwane metro is of was gelei deur n DA koalisie regering ,ek kan verstaan as die anc hiervoor verantwoordelik was maar dit bewys weereens die DA se agenda en simpatie vir die mense wat vir hulle stem maar soos Siener van Rensburg voorspel het die party wat sy naam verander het raak weg.

Pieter ·

Waardasies. Ekself het ‘n gekonkel tussen ‘n waardeerder en die opdraggewer oopgevlek. Die saak aanhangig gemaak by die Waardeerdersvereniging, erkenning gekry dat die waardeerder verkeerd opgetree het en toe verdwyn hulle almal. Sterkte, dit is ook ‘n korrupte spul en in Suid Afrika bly korrupsie ongestraf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.