Veldtog teen belasting om entstof te bekostig

(Foto: Joel Saget/AFP)

Die regering kry die wind van voor oor bewerings dat hy oorweeg om belasting te verhoog ten einde vir entstof teen Covid-19 te kan betaal. Die politieke party Action SA het nou ʼn veldtog geloods teen die heffing van bykomende belasting om vir die regering se entstof-program te betaal.

Dié optrede kom terwyl lande wêreldwyd belasting verlaag in reaksie op die ekonomiese resessie wat ʼn direkte gevolg van die pandemie is.

Action SA wil met die #CutTheFat-veldtog druk op die regering plaas om sy eie uitgawes eers te probeer besnoei voordat hy belasting hef en verdere finansiële druk op Suid-Afrikaners plaas. Die party beoog om met die veldtog in die volgende paar weke die regering se “geldvermorsing” aan die lig te bring.

“Suid-Afrikaners word reeds oorbelas. En dit is nie net die mense wat werk of ondernemings besit nie, maar ook die 11,2 miljoen werkloses wat vir vervoer of basiese huishoudelike voorrade moet betaal,” sê Herman Mashaba, president van Action SA.

“Met die instel van die algehele afsonderingstydperk verlede jaar is daar ekstra finansiële druk op huishoudings geplaas. Weens salarisse wat gesny moes word, beskik huishoudings oor minder geld om te bestee. Byna die helfte van klein ondernemings moes hul deure sluit, wat meer as 2,8 miljoen werkverliese tot gevolg gehad het.”

Action SA doen nou ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om ʼn streep in die sand te trek en te sê “tot hiertoe en nie verder nie”.

“Ons kan nie langer toekyk hoe ʼn regering geld onoordeelkundig gebruik terwyl die res van die land se burgers swaarkry nie.”

Intussen het die organisasie Corruption Watch ʼn brief aan die nasionale tesourie gerig om sy kommer oor die moontlike korrupsie rondom die verkryging en verspreiding van die Covid-19-entstowwe uit te spreek.

Die organisasie het in die brief ʼn aantal vrae aan die tesourie gerig oor belangrike aspekte van die verkryging en aankope van entstowwe, die toediening daarvan en aspekte wat deursigtigheid en openbaarmaking waarborg.

Die vrae wat gestel is het betrekking gehad op deursigtigheid met betrekking tot die verkryging van die entstowwe, asook kwessies rakende die toesig, vervoer, berging en verspreiding daarvan.

Die tesourie het in sy antwoord op die organisasie se brief die departement se entstofplan volledig uiteengesit, insluitend besonderhede oor maatreëls wat getref is om die risiko vir korrupsie hok te slaan.

Corruption Watch is egter nie oortuig dat die tesourie aan al sy bekommernisse aandag gegee het nie.

Volgens Karam Singh, die organisasie se hoof van regte en beleggings, sal die ontvouing van die entstofprogram fyn dopgehou moet word om te verseker dat daar nie ʼn herhaling van die PPE-debakel is nie.

Die organisasie is egter tevrede daarmee dat die ouditeur-generaal die aankoop van entstowwe sal help kontroleer.

“Ons boodskap aan die regering is eenvoudig dat maksimum deursigtigheid en streng toesig ʼn rampspoedige, korrupte verkrygingsproses sal voorkom.”

Vir meer inligting oor Action SA se veldtog besoek www.actionsa.org.za/CutTheFat 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Pierre ·

Ek voel steeds, elke belasting betaler se geld moet na die party waarvoor hy stem gaan, nie net sommer goedwillend na die regerende party nie.

Deon ·

Die oorgrote meerderheid stem anc, moet BTW ook soontoe gaan?

Fritz ·

En diegene wie nie stem nie, se belasting gaan na hulself. Ek sou al honderde duisende rande gespaar het met die wat ek nog NOOIT gestem of geregistreer het nie.

Lorette ·

‘n stem wat NIE uitgebring word nie, is outomaties ‘n stem vir die ANC

Pampoen ·

Laas het die regering gese dat $10 per dosis te veel is. Dis omtrent R200. Die oorgrote meerderheud van die bevolking kan R200 eenmalig bekostig. Ek skat omtrent 20% kan dit glad nie bekostig nie, maar dis maar ‘n drupel in die emmer van al die geld wat vir Covid begroot is.
Ek verwag in elk geval nie dat daar enige billike of regverdige in-entings program gaan wees nie. Dit gaan ‘n kwessie van konneksies wees – en ek is nie “connected” nie.

Die Wolf ·

Nee, Die beginsel is dat ek en jy belasting betaal en dat die regering soos by al die ander lande die enstof gratis moet voorsien. Sny die klomp Ministers en klomp loafers in staats departemente met 50% om te tekorte aan te vul. Is dit ons skuld dat onbevoegdheid ons in die hakskeen byt ?

Se maar net ·

Ja regering wil belasting verhoog vir verkryging van entstowwe, net sodat hulle die geld ook kan verduister, waarom moet ek meer belasting betaal vir entstowwe wat ek in elke geval nie wil he nie. Dien daardie entstowwe maar eers aan die ministers toe en halveer hul salarisse en gebruik daardie geld dan om die entstof aan te koop.

MAGRIETHA ·

Die regering verloor daagliks duisende rande aan aksynsbelasting maar hul wil tax verhoog terwyl duisende mense hul werk verloor het en die wat nou hul werk gaan verloor soos die alkol bedryf , kos pryse het die hoogte ingeskiet so kan ons aangaan maar die verbruiker word gemelk

Pieter J ·

Die feit dat die regering addisionele beladting oorweeg hiervoor wys in watter haglike toestand die land se finansies reeds is. Ten spyte hiervan gaan die regering voort om die land se ekonomie af te breek met covid as verskoning. Hierdie epidemie pas hulle agenda soos ń handskoen.

Sonneblomkind ·

Extra belasting…ons betaal reeds belasting of jy werk of nie werk nie. Basiese behoeftes om van te lewe styg…waar gaan die geld heen……nog weer n verskoning om ons te beroof

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.