Veldtog teen ‘omstrede’ Mogale City-stadsraad begin

Die VF Plus het Vrydag laat hoor hy gaan ʼn dringende versoekskrif rig aan dr. Zweli Mkhize, die nasionale minister vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), om onmiddellik in te gryp in die beheer en bestuur van die Mogale City-munisipaliteit wat Krugersdorp, Magaliesburg en Muldersdrift insluit.

Jaco Mulder, die VF Plus se leier in Gauteng, het gesê die Mogale City-stadsraad is sedert die 2016- plaaslike regeringsverkiesings toenemend in omstredenheid gehul met sigbare wanadministrasie, swak dienslewering en agteruitgang.

“Die rooi ligte flits vir Mogale City wat reeds soortgelyke simptome begin toon as Emfuleni in die Vaaldriehoek wat tans onder administrasie is en waar inwoners dikwels sonder krag en water oor die weg moet kom,” het Mulder gesê.

Mulder meen Mogale City se burgemeester, Patrick Lepudi, is op 28 Junie 2017 op ʼn onreëlmatige wyse in sy amp verkies deurdat hy tydens sy eie verkiesing as voorsittende beampte van die stadsraad opgetree het.

“Die huidige speaker is op soortgelyke onreëlmatige wyse verkies.”

Mulder voer verder aan dat die raad sedert 2016 funksioneer sonder ’n geproklameerde reglement van orde soos vereis word deur die Suid-Afrikaanse Grondwet. “Alle besluite wat die raad sedert die plaaslike regeringsverkiesings van 2016 geneem het, is daarom by implikasie onwettig.”

Uhuru Moiloa, Gauteng se LUR vir samewerkende regering en menslike nedersettings het tot dusver volgens Mulder in sy oorsigrol gefaal om dit reg te stel, selfs nadat die VF Plus dit onder sy aandag gebring het.

“Die party is in proses om ʼn klag teen die LUR, die burgemeester en speaker voor te berei ingevolge oortredings van die Uitvoerende Lede-Wet.”

Volgens Mulder word die speaker en burgemeester se werkswyse gekenmerk deur talle omstrede grondtransaksies en behuisingsontwikkeling by onder meer Hekpoort en Tarlton, asook ʼn onwettige poging van die ANC-speaker om ʼn raadsbesluit op 22 Junie 2018 deur te dwing om ʼn oortrokke fasiliteit van R100 miljoen te bekom.

Die VF Plus versoek minister Mkhize om die Gautengse LUR tot orde te roep en om die burgemeester en speaker van Mogale City se raad te verwyder. “Dit is nou tyd dat alle gemeenskappe wat deur die Mogale City-raad bedien word, saamstaan om verdere agteruitgang te verhinder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

besoeker ·

dan moet julle graskop mp sien. toeriste dorpie. groot dele daagliks ure lank sonder water. riooldreine wat straataf loop.

Duncan Potgieter ·

Moenie sleg voel en verder “worry” nie – alle stede en dorpe onder die korrupte ANC sal binnekort onder suiwer riool veswelg word en is min gepla.
Die kaders het almal net een prioriteit op die brein – om mag te bekom en geldbronne te stroop vir eie gewin en is niks gepla oor dienslewering.
Ek het goeie raad vir alle SA burgers en veral jong gekwalifiseerde Suid-Afrikaners – jy mors jou tyd en kundigheid in hierdie land – emigreer liewer so spoedig moontlik na `n land waar daar orde is en bekwame en opgeleide mense in `n omgewing waardeer sal word wat nie meer in SA bestaan nie.

Vegter ·

Randfontein is so vol plastiek almal dump hul vuilgoed sommer langs die pad
Dink nie dis net Mogale city wat n probleem het nie

Frans ·

Sedert 1994 se nuut aangestelde regering, het pro-aktiewe onderhoud van infrastruktuur, noodsaaklike dienste, polisiëring, regstelsels, bevoegde finansiële hantering van belasting, PFMA, misdaadvoorkoming, annargie, wetteloosheid, werkloosheid, regerings korrupsie, bevoegde bestuur van staatsinstansies, gebrekkige onderrig (skole en tersiër), nie-operasionele hospitale, ens. geleidelik oorgeneem en met ‘n bose intensiteit toegeneem wat die huidige verval van SA se regerings “beloftes” tans oorheers. Met die huidige rioolprobleme, waterbronne se besoedeling, agteruitgang van infrastruktuur en morele waardes, valse beloftes vanaf die regering en sekere politiese partye t.o.v. “regstelling” om vir foute van verlede te “vergoed”, gaan SA se “leiers” heers oor ‘n ashoop van mislukkings, afgebrande infrastruktuur, desperate “volgelinge” wat misdaad en geweld gebruik om te probeer oorleef weens die impak van “leë” beloftes gemaak, oorlewing a.g.v. besoedelde water wat siektes en dood veroorsaak, hongersnood omdat geen voedsel geproduseer word a.g.v. onteiening van landbougrond ten koste van ondergrondse minerale, ens. Wie wil ‘n “gesogte leier” van só ‘n mislukte en hopelose regering wees? Wie gaan só ‘n regering volg en vertrou? Alles wat die regering as “Eutopia” voorgehou het, gaan “backfire” en dan gaan dié wat valse beloftes gemaak het, vir hulle eie lewens moet vlug of skuil. Dan gaan elkeen teen die valse leiers draai en vergelding opeis. Mag ingryping in die regering se bedrieëry plaasvind om SA van bogenoemde te red. Mag daar ‘n bevoegde regering aan bewind kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.