Veldtog wil Noordwes-naam beskerm

Noordwes Foto: Ali Conquerre, Pinterest

Noordwes Foto: Ali Conquerre, Pinterest

AfriForum het ʼn nasionale veldtog van stapel gestuur waarmee dié burgerregte-organisasie Suid-Afrikaners aanmoedig om ʼn petisie te onderteken om die Noordwes-provinsie se naam te behou. Die naam van die veldtog is Keer dat Noordwes waai.

Die petisie word aanstaande maand saam met ʼn memorandum aan die premier van Noordwes, Supra Mahumapelo en die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, oorhandig. Dit volg nadat Mahumapelo voorgestel het dat Noordwes se naam verander word na Moses Kotane om dié voormalige sekretaris-generaal van die SAKP te vereer.

“Die voorstel is polities gedrewe en skep polarisasie. Die ANC gaan die provinsie verbind tot die herdenking van ʼn kommunistiese leier wie se organisasie verantwoordelik was vir terreuraanvalle waarin onskuldige Suid-Afrikaners dood is,” het Marcus Pawson, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Noordwes, gesê.

Pawson het gesê dit is algemene kennis  dat die Noordwes een van die land se provinsies is wat die swakste presteer. Vyf munisipaliteite in die provinsie is reeds onder administrasie en ander kan dieselfde pad volg weens bedrog, korrupsie, swak finansiële bestuur en onvermoë om dienste te lewer.

“Die naamsverandering sal ʼn groot hap vat uit die provinsiale regering se koffers, wat munisipaliteite se fondse sal beïnvloed en direk sal inwerk op dienslewering aan belastingbetalers. Daar is reeds ʼn munisipaliteit in Noordwes wat Moses Kotane heet, maar mnr. Mahumapelo systap reaksie hierop.”

Daar sal ook druk op die Noordwes-Universiteit geplaas word om sy naam ook na Moses Kotane te verander.

Klik hier vir die petisie. Mense wat wil deelneem kan ook hul naam SMS na 45351 teen R1.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andries Erwee ·

solank name en veral n nuwe SA naam soos Noord-Wes soveel aandag kry skep ek moed. Dit laat my voel dat die probleme wat ek raaksien nie regtig ernstig is nie. Of ek nou in verwoerd straat of in Mandela str ry of bly maak geen verskil aan my nie.

Cobus ·

Ek verstaan nie??? Dit was die ou Wes Transvaal gewees, toe verander die naam na Noord Wes provinsie na 1994??? Nou wil hulle dit weer verander….???? So hulle is nie eers gelukkig met hulle eie naamsverandering nie…????
Dit is net soos ons lughawe, dit was Jan Smuts Internasionale lughawe gewees, toe verander hulle dit na Johannesburg Internasionaal, en toe weer na O.R Tambo, gaan hy weer verander…???
En wie betaal elke keer vir die verandering….????

Een Woord: Belaglik!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.