Veldwagter doodgeskiet toe buffel storm

Argieffoto ter illustrasie Foto: amandad, Pixabay

Argieffoto ter illustrasie Foto: amandad, Pixabay

ʼn Veldwagter is Donderdag per ongeluk deur ʼn kollega doodgeskiet toe ʼn buffel hulle in die Kruger-wildtuin bestorm het.

Die wildtuin het die tragiese voorval in ʼn verklaring bevestig. “Die twee veldwagters was in die Malelane-gebied besig met ʼn aktiewe teenstroping-patrollie toe die buffel hulle van ʼn kort afstand bestorm het,” lui die verklaring.

“Volgens die kollega het die buffelbul hulle bestorm en was daar ʼn warboel om skuiling te vind vanwaar hulle die dier kon neutraliseer. Daarna het hulle gesien die oorledene is in die kruisvuur vasgevang en het ʼn ernstige skietwond in sy bolyf opgedoen.”

ʼn Sanparke helikopter het dadelik ʼn dokter na die toneel geneem, terwyl ʼn ambulans vanuit Nelspruit ontbied is. Die veldwagter is op die toneel gestabiliseer en per helikopter na die Nelspruit Medi-Clinic geneem, waar hy aan sy beserings beswyk het.

Fundisile Mketeni, Sanparke uitvoerende hoof, het sy medelye aan die oorledene se familie, vriende en kollegas betuig. “Dit is vir ons as ʼn familie ʼn hartseer dag om een van ons eie mense te verloor; ʼn toegewyde kollega en vriend wat nie net die organisasie nie, maar die hele wêreld gedien het om die beskerming van ons natuurlike erfenis te verseker. Ons het alles gedoen om sy lewe te red, maar het hom ongelukkig verloor,” het Mketeni gesê.

“Ons hoop dat hierdie tragiese voorval ons kollegas sal inspireer om voort te gaan met die uitmuntende werk wat hulle doen, sodat sy dood nie tevergeefs was nie.”

Mketeni het gesê die oorledene se kollega sal berading ontvang.

Die oorledene se naam kan nog nie bekendgemaak word nie, aangesien al sy naasbestaandes nog nie van sy dood ingelig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

DPJ ·

Ja, ‘n skiet ongeluk vind baie vinig plaas. Ons innige medelyde met beide families. Die oorledene sin as ook die kollega sin. Ons het nie antwoorde nie.
Bid julle die ryke vertroosying God die Heilige Gees toe.

Lou vd Merwe ·

So jammer dat soiets moet gebeur met mense wat so ‘n onbaatsugtige werk doen.

Hennie ·

‘n Tragiese voorval, ons het simpatie met die oorledene se familie asook met die kollega.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.