Veldwagter, veeartstegnikus vas vir stropery

Argieffoto: viechfisch, Pixabay

Argieffoto: viechfisch, Pixabay

ʼn Veldwagter in die Krugerwildtuin is Woensdag saam met ʼn staatsveeartstegnikus in hegtenis geneem in verband met renosterstropery.

William Mabasa, woordvoerder van die wildtuin, het gesê veldwagters van SANParke was Woensdag besig met roetinepatrollie in die park toe hulle drie geweerskote gehoor het. Hulle het hulle in die rigting van die geweerskote gehaas en gesien hoe twee mans, een geklee in ʼn groen veldwagteruniform en een in kakieklere, na ʼn bakkie hardloop wat daar naby geparkeer was.

Die veldwagters het die bakkie agternagesit terwyl hulle bystand ontbied het en die bakkie is uiteindelik deur ʼn tweede groep veldwagters voorgekeer, het Mabasa gesê. “Die twee verdagtes is op die toneel in hegtenis geneem en daar is op ʼn vars witrenosterkarkas, twee horings, ʼn geweer en ander stropingstoerusting beslag gelê.”

Mabasa het gesê die veeartstegnikus is ʼn werknemer van die departement van landbou, bosbou en visserye. Die verdagtes se name kan nog nie bekendgemaak word nie aangesien hulle nog nie in die hof verskyn het nie.

Fundisile Mketeni, die uitvoerende hoof van SANParke, het gesê dit is “hartseer en aaklig” om te hoor dat ʼn werknemer van SANParke vir renosterstropery vasgetrek is. “Dít is die mans wat die teenstropingsaktiwiteite in die park moet lei. Ons loof ons veldwagters wat die inhegtenisneming uitgevoer het, want dit is vir hulle soos om hul lynhoof in hegtenis te neem. Met hierdie kaliber mans en vroue in ons parke kan ons die stryd teen renosterstropery wen,” het Mketeni gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Asjas ·

Jip, makste hond byt die seerste.
Wanneer het die mensdom so gierig geword??

Sandra ·

Baie dankie – so trots op hierdie veldwagters vir wie hulle werk n erns is. Goed gedoen

tamboti ·

Toe die handel in die horings wettig was, was daar nie so baie stropers, so baie dooie renosters en die pryse was baie laer. WAT IS DIE LOGIESE GEVOLGTREKKING???
Wettig die handel dan is die probleem kleiner, en die wettige eienaar maak ook wettiglik geld. Dieselfde met ivoor en perlemoen – nou maak net die skelms geld en die spesie is bedreig!
Wie wil stry???

Gjorgi ·

Ek wil stry want daar is soveel gate in jou redenasie ek weet nie waar om te begin nie. Ek gaan dit dus eerder los want net die emosionele manier waarop jy die skrywe gemaak het weet ek jy gaan, ondanks feitelike redenasies, nogsteeds by jou standpunt bly. Oogklappe.

Cherokee ·

Jou beskrywing ‘oogklappe’ is van pas Gjorgi. Ek stem met jou saam. Die oogklapdraers is mense wat agter ander aan praat sonder enige eie kennis. Hulle is op alle forums.

Eric ·

Tyd dat handel oopgestel word sodat met hul geboer kan word om getalle te vermeerder

Anoniem ·

Hoop die feit dat dit ‘n veldwagter en staatsveeartstegnikus was, tel as verswarende omstandighede! Veral vir die veldwagter!!!

Daan Erasmus ·

Dit is juis die mense wat geen renoster besit nie. Wat wil voorskryf wat die renoster eienaar moet doen. Huidiglik het n renoster horing geen komersieële waarde nie. En daar is honderde “save the rino” mense wat werk het omdat renosters gestroop word.

Ronnie ·

Daan, stem absoluut saam. Mense soos Cherokee en Gjorgi het duidelik nog nooit gaan sit en dink oor die saak nie. Hardloop net saam met die groen kudde. Leunstoel kenners moet eers self renosters besit en verantwoordelikheid daarvoor aanvaar. Dan kan hulle saam gesels.

Tammy ·

Toe ek n paar weke gelede in Kruger wildtuin was toe is daar ook veldwagters gevang vir stropery. Dis n skande!! Hoop hulle word baie swaar gestraf aangesien hulle van die hand wat hulle voer STEEL. Nou het dit weer gebeur. Ag nee, my hart gaan uit na die diere. Ek moet eerlik se dat ek baie teleurgesteld was met my besoek. Die netheid van jare gelede bestaan nie meer in die park nie en die onkunde onder die werkers het my erg ontstel. Hulle is net vir een rede daar en dit is om te oorleef geen trots of wil om te werk nie.

Bernard Grobler ·

Dalk is dit tyd dat die park se werknemers en diensleweraars gereeld gepoligraaf moet word. Ek besoek die park ten minste een tot twee keer per jaar en dit is n handjie vol wat hulle skuldig maak hieraan. Vir meeste is dit n trots om daar te kan werk.

rupert ·

Hulle moet die veldwagters,groot bonusse betaal elke keer as hulle n stroper vang of doodskiet.dit sal hulle motifeer.

tish ·

uiteindelik. nog altyd gese dit is in inside job.
hoop die wereld se oe gaan nou oop en sien dis die parkeraad se eie mense.
sies, skande, sluit toe en gooi die sleutel weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.