Veldwagter vervolg na teelprogrambokke vrek in wildtuin

‘n Bastergemsbok (Argieffoto: Pixabay)

Strafregtelike klagte is teen ’n voormalige senior veldwagter van die Krugerwildtuin aanhangig gemaak nadat 20 bastergemsbokke weens dors gevrek het.

Die inligting is vervat in ’n parlementêre antwoord van Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, op ’n vraag van die DA.

Die 20 bokke wat in 2019 gevrek het, was deel van die wildtuin se teelprogram vir bastergemsbokke en hulle is in ’n teelkamp gehuisves waar hulle gevoer en van water voorsien moes word.

’n Ondersoek deur SANParke se omgewingsmisdaadeenheid het bevind dat die bokke dood is nadat hulle nie van water voorsien is nie.

’n Senior veldwagter wat na dié diere se welstand moes omsien, is van growwe nalatigheid aangekla en is na afloop van ’n interne tugproses afgedank, het Creecy in Junie verlede jaar gesê.

Daar was volgens haar egter nie genoegsame bewyse om strafregtelike klagte teen die veldwagter aanhangig te maak nie.

In ’n opvolgvraag van die DA vroeër die maand het Creecy egter bevestig dat ’n aanklag ingevolge die Dierebeskermingswet teen die voormalige veldwagter aanhangig gemaak is.

Die minister het destyds gesê dat die teelprogram voortgaan en ten doel het om die aantal bastergemsbokke in die wildtuin te vermeerder. ’n Aksieplan is na die voorval in werking gestel waarvolgens die teelkamp weekliks besoek word om water- en kosbakke vol te maak en die diere se algemene welstand te ondersoek.

In Junie 2020 is geskat dat daar tussen 40 en 50 bastergemsbokke in die wildtuin is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.